Leesplan inligting

Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?Voorbeeld

Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?

DAG 4 VAN 7

Uitbranding is nie verpligtend nie


Ek begin met ’n stelling: “Uitbranding is nie verpligtend nie.” ’n Mens hoor heeltemal te veel die woord “uitbranding” wat leiers betref. Dit het al ’n statussimbool vir baie geword. Hoe kan uitbranding ’n statussimbool wees? Eenvoudig: “Ek werk so hard ... ek werk té hard, en daarom het ek uitgebrand.” Kom ons sê dit nou hard en duidelik vir mekaar: Uitbranding is nié ’n kompliment nié. Uitbranding is nié iets om oor te spog nié.


Kom ek sê vir jou wat uitbranding is. Dit is swak selfbestuur. En nou wil ek eerlik met jou wees om vir jou te sê ek het ook ’n tydperk in my lewe gehad wat ek werklik myself in diep uitbranding bevind het. En daarom weet ek wat dit is: Dis swak selfbestuur.


Ons kyk dikwels die belangrikheid van selfbestuur en self-leierskap mis. Ons sukkel soms om onsself te lei. Iets wat hiermee kan help, is wat ek noem leierskap-fiksheid. Ons sien soveel leiers wat die hele tyd besig is om te herstel – hulle word afgeboek of moet verpligte verlof neem omdat hulle nie meer “ordentlik kan funksioneer” nie. Dis herstel, herstel, herstel, in plaas daarvan om ingeoefen te wees om leierskap goed en reg te kan doen. 


Kom ek gebruik die Engelse terminologie wat dit vir jou baie eenvoudig gaan maak: “Fix versus fitness.” Om proaktief te wees en leierskap-fiks te wees, behoort ’n leefstyl te wees by elke goeie leier. Dis ’n deurlopende proses. Dis ’n aanhoudende proses. Dis ’n doelgerigte proses om jouself te verbeter en te bemagtig en om vir jouself om te gee. 


Dink aan ’n atleet by die Olimpiese Spele. Hy begin nie daar oefen nie. Nee, hy kom top-fiks daar aan, want hy is voorbereid vir wat op hom wag. En so min leiers doen ooit hierdie proaktiewe leierskap-fiksheid. Kom ek noem eenvoudige voorbeelde om jou te help: Lees gereeld. Die beste mense in die wêreld se heel beste inhoud is beskikbaar. Woon konferensies en seminare by. Kyk DVD’s. Dit gaan daaroor om myself leierskap-fiks te kry, en fiks te hou, deur nuwe tegnieke aan te leer en bewus te wees van nuwe, innoverende idees. En hierdie persoonlike groei kom nie vanself nie. Dit kom doelbewus. Dis ’n doelgerigte besluit, ’n doelgerigte keuse wat ’n mens moet maak. Dis dissipline, dis toegewydheid, ter wille van selfontwikkeling en selfverbetering.


Ons skuld hierdie wêreld energieke, passievolle leierskap. Kom ons wees dus doelgerig met selfleierskap, selfbestuur, en ons leierskap-fiksheid. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?

Johan Smith vra jou om te evalueer of jy lei of ander laat ly ... In hierdie 7-dag leesplan praat Johan oor leierseienskappe soos invloed, opoffering, self-leierskap, sensitiwiteit en verhoudingsfokus. Alles wat jy nodig...

More

Ons wil RightNow Media Suid -Afrika bedank vir die verstrek van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.rightnowmedia.org/za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid