Leesplan inligting

Pa-wees saam met GodVoorbeeld

Pa-wees saam met God

DAG 1 VAN 7

My droom vir my kind


Wanneer baie kinders hulle eerste lewenslig aanskou, word die rugbybal reeds uitgesoek en al wat die pa sien, is die potensiële Springbok. En watter pa gaan nie allerhande drome droom wanneer sy kind oor die verhoog loop en die een akademiese prys na die ander losslaan nie!


Maar waar pas God en God se drome vir jou kind in? Dit is goed om moeite te doen met jou kind se verstandelike en fisieke menswees. Dit is belangrike aspekte van jou kind se totale ontwikkeling. Maar wat van jou kind se geestelike ontwikkeling? Wat van God se plan vir jou kind se lewe? Hoeveel gaan jy daarin belê? Hoeveel tyd gaan jy saam met God deurbring om by Hom te hoor wat sý plan vir jou kind se lewe is?


Ons almal weet dat Moses een van die grootste leiers van alle tye was. Toe Moses in die doekdra-en-skreeufase van sy lewe was, het sy ouers een ding raakgesien: Moses was baie spesiaal. Dit het niks te doen gehad met sy sporttalent of akademiese vermoëns nie, maar alles met sy goddelike potensiaal. As ouers het Moses se pa en ma saam ’n span gevorm om hulle kind in die wil en weë van God groot te maak. Dis belangrik om te onthou dat Moses nie een van daardie uitstaande, foutlose jongmense was nie. Hy het onder andere gehakkel. Sy ouers moes dit dus in ag neem en hom help om sy goddelike potensiaal te ontdek en te ontwikkel. Nooit sou Moses se pa hom skaam vir sy kind nie. Moses se pa het geweet God het Moses spesiaal gemaak; God het ’n plan met sy lewe en hy as pa gaan die regte drome droom oor Moses; goddelike drome. Hy sou Moses daarvolgens grootmaak en God vertrou vir die res. 


Wat droom jy vir jou kinders? Is dit nie tyd om terug te kom na die groot waarheid van God se droom vir jou kinders nie? Bo alles, bo elke graad of sportprestasie, selfs bo titels soos dokter, professor en staatspresident, staan God se droom vir jou kind geskryf: Visser van mense. Verskilmaker in ’n wêreld vol nood. Draer van God se genesing.


HERE, DANKIE DAT ELKEEN VAN MY KINDERS SPESIAAL IS EN DAT U ’N SPESIALE DOEL EN PLAN VIR HULLE HET. HELP MY OM MY DROME VIR HULLE IN OOREENSTEMMING TE BRING MET U DROME VIR HULLE.  

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Pa-wees saam met God

Die lewe is so gejaagd en veeleisend en pa’s weet nie meer wat belangrik en wat prioriteit is nie. Elke pa behoort God se hart oor pa-wees te ken en te verstaan. Hierdie oordenkings sal jou motiveer om jou pa-wees met oo...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.cumbooks.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid