Leesplan inligting

Romeine: Ervaar die Krag van Lewensveranderende GeloofVoorbeeld

Romeine: Ervaar die Krag van Lewensveranderende Geloof

DAG 7 VAN 7

Lees en bespreek: Romeine 8


Vrae vir Groepbespreking of Persoonlike Studie 



  1. Watter soort lewe verwag God van dié wat deur Hom geregverdig is, dié aan wie Hy sy Gees gegee het?

  2. Watter leerstelling omtrent die wet word deur Romeine 8:2 bevestig?

  3. Wat is die verskil tussen ons verganklikheid en die verganklikheid van die wêreld? 

  4. Wat is die verband tussen die verlossing van die mens en die verlossing van die aarde? Weet jy?

  5. Wie tree vir ons in? Hoe?

  6. Bespreek elkeen van die stellings in Romeine 8:28-39 wat bevestig dat God vir ons is.

  7. Watter beloftes in Romeine 8 beteken vir jou die meeste? 

  8. Hoe gaan jy dit op jou lewe toepas?


Gedagte vir die Week


Vry! Jesus het verkondig: “As die Seun julle vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36). Sy onderrig het oor presies dieselfde onderwerp gehandel as wat Paulus in Romeine 8 behandel. Wie sonde doen, is onder beheer van die sonde, maar die Seun maak jou vry van die diensbaarheid aan sonde. Kyk wat sê Romeine 8:2: “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Waarom? Omdat jy die Heilige Gees ontvang het die dag toe jy jou geloof in Jesus bely het.


Die rede waarom God die Heilige Gees aan jou gegee het, is nie dat jy kan sit en niks doen nie. Volgens Romeine 8 moet ons wandel ooreenkomstig die Gees en ons gedagtes op die dinge van die Gees rig. God sal aan ons lewe gee deur die Gees wat in ons woon. Deur die Gees maak ons die werke van die liggaam dood en ons lewe deur die Gees. As ons deur die Gees gelei word, is ons kinders van God.


Nie net dit nie, die Gees kom ook ons swakhede te hulp deur vir ons in te tree met onuitspreeklike sugtinge.


Hoe belangrik is die inwonende Heilige Gees? Onthou, as ons sê die Heilige Gees woon in ons, verwys ons na God self. As ons werklik die idee van die Drie-eenheid, die drie-persone-in-een-Godheid begryp, moet ons rekening hou met die feit dat die Heilige Gees net soveel God is as Jesus die Seun en God die Vader. Hy, nie dit nie, woon in ons.


God self het in die tabernakel tussen die Israeliete gewoon. Sy heerlike wolk het voor hulle uitgetrek en op die versoendeksel van die verbondsark in die Allerheiligste in die tabernakel gerus en later in die tempel.


God self het vlees geword en onder ons kom woon in die persoon van Jesus van Nasaret, volledig mens en volledig God. En Hy het vir ons gesterf en betaal wat ons verskuldig was, maar nie kon betaal nie. God die Vader het ons so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het om vir ons te sterf.


God die Heilige Gees woon self in ons. Hy sweef nie iewers op die uithoeke van die heelal nie, hy woon in my en jou en in elke mens op aarde wat ooit in God se belofte geglo het.


Hy is die krag wat ons in staat stel om te lewe. Hy is die krag wat ons in staat stel om ons gedagtes op die dinge daarbo te rig en nie op die vlees nie. Hy is die krag wat ons in staat stel om nee te sê vir sonde en ja vir geregtigheid. En Hy is die Een wat vir ons intree in gebed, net soos Jesus, wat aan die regterhand van die Vader sit, vir ons intree.


Hierdie inwonende Heilige Gees, God met ons, is nie bloot as ’n metgesel met ons nie. Hy is veel meer. Hy is nie net “daar vir ons” nie, maar is die aktiewe element in goeie werke — ons mag om enigiets goeds te doen. Hy woon permanent in ons. Die liefde van God het aan ons sy Seun, Jesus, gegee om in ons plek te sterf, maar Jesus het na die Vader teruggekeer. Nadat Hy na die hemel opgevaar het, het Hy die derde Persoon in die goddelike Drie-eenheid, naamlik die Gees, in sy plek gestuur om in ons te woon.


Hy kom nie oor ons soos wat met Saul en Dawid die geval was nie. Hy het Saul verlaat. Hy het op magtige wyse oor Dawid gekom, maar vandag woon Hy in ons en bemagtig Hy ons. Dit vorm deel van die belofte van die nuwe verbond wat saam met Jesus gekom het, lank nadat Saul en Dawid al weg was. Esegiël het geprofeteer: “En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:27). 


Niks sal ons van die permanente inwoning van die Heilige Gees skei nie. Oor hierdie waarheid behoort jy jou te verbly, geliefde. Hier op aarde kan ons van enige iemand geskei word. Ons trek weg van familie en vriende en verloor kontak. Ons lewens raak besig. Soms word ons omstandighede ’n struikelblok wat verhoudings verbreek. Soms word families verdeel deur egskeiding. Soms word ons deur die dood van mekaar geskei. Maar niks kan ons van God se liefde of sy teenwoordigheid in ons, naamlik die Heilige Gees, skei nie. Watter omstandighede die lewe ook al mag meebring, ons sal God altyd in ons hê. Ons is nooit, ooit alleen nie.


Miskien moet jy vir ’n rukkie hieroor nadink, geliefde. Dink aan die belangrikheid, die troos in die wete dat ons Een het wat ons nooit ooit verlaat nie. 


Indien jy verder wil studeer en die waarhede uit die boek van Romeine wil ontdek, gaan na ons webtuiste en bestel die volledige studie: Romeine: Ervaar die krag van Lewensveranderende Geloof .

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Romeine: Ervaar die Krag van Lewensveranderende Geloof

Die slegte nuus: Jy sal nie vanself daartoe in staat wees om te kwalifiseer om deel van God se familie te wees nie. Die goeie nuus: God is lief vir jou en het 'n weg berei om jou sonde te vergewe, jou deel van God se fam...

More

Ons bedank Precept Ministries SA vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://precept.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid