Leesplan inligting

Oorleef Droefheid: Oordenkings vir Ouers in RouVoorbeeld

Surviving Sorrow: Devotions for Parents in Mourning

DAG 5 VAN 5

Ek weet jy kan jou nou nie 'n enkele dag sonder pyn indink nie. Ek weet. Om eerlik te wees, die meeste dae begin en eindig (met sulke steke tussenin) vir my met 'n bietjie pyn, selfs soveel jare later. 



Ek verwag nie om in hierdie lewe sonder pyn te wees nie. My hart klou vas aan die standvastige Skrifgedeeltes waarin God belowe om die gebrokenes van hart te genees. Daar kom 'n dag wat jou hart nie meer gebroke sal wees nie. Eendag sal die dood vir altyd verby wees. In die hemel sal daar geen grafte wees nie. In die nuwe hemel en nuwe aarde wat God gaan skep, sal daar geen hospitale, begrafnisondernemings of begraafplase wees nie. O, glorieryke dag! 



Kan jy jou so 'n plek voorstel? Probeer om jou net vir 'n oomblik 'n wêreld voor te stel sonder ongelukke wat lewens meteens steel nie. Geen liggame wat ineenstort en sterf nie. Geen kanker nie. Geen geboortedefekte nie. Geen bose om teen te veg nie. Geen verslawings nie. Geen onvrugbaarheid nie. Geen miskrame nie. Geen gesinne wat agtergelaat word nie. Geen leë beddens nie. Geen leë sitplek aan tafel nie. Geen pyn meer nie. Hartseer sal nie bestaan nie. Depressie sal niemand bekruip nie. Angstigheid sal nie jou vreugde steel nie.  



As jy in God die Vader en Jesus die Verlosser glo, kan jy rus vind in die feit dat die hemel op pad is. Eendag sal die hemel 'n werklikheid wees. Wanneer ek ook al aan die hemel dink, en om God van aangesig tot aangesig te sien, wonder ek of ek Hom sal vra. Ek wonder of die vraag dan nog in my hart sal wees, of dit oor my lippe sal glip: hoekom? Sal ek God vra waarom my kind moes sterf? Ek weet nie. 



Ek dink dikwels die hemel sal so fantasties en volmaak wees dat ek op een of ander manier sal verstaan hoe gebroke hierdie aarde en die menslike lewe regtig is, aangesien dit van God geskei is. Om Austin te verloor het, sal op 'n manier vir my sin maak. Ander kere, verbeel ek my God maak vir my 'n plekkie om langs my Vader God te sit en 'n lang gesprek te hê oor my lewe, Austin se lewe, ons tyd op aarde en hoe Hy alles tot sy verheerliking gebruik het. 



Ek sien hoe Hy met droefheid in sy oë na my, sy kind, kyk terwyl Hy praat. Hy wys my die bottel waarin Hy al my trane opgevang het. 'n Boek word geopen waarin Hy elke enkele dag van my rou, elke enkele traan opgeteken het. Daar is redes. Sommige het niks met my te doen nie, maar alles het met Hom te doen. 



Ek sal skielik verstaan dat alle dinge op aarde aan die almagtige God behoort. Alles gebeur ter wille van sy koninkryk en tot sy verheerliking. My lewe, die lewe van my kind, my gesin, ons is almal deel van sy verhaal. Die einde van sy verhaal is egter waarna my hart smag — na ewige heerlikheid, geen dood of droefheid meer nie. 



Tot daardie dag moet ons aanhou om ons hierdie dinge in die verbeelding op te roep! Laat toe dat jou hart vandag verhef word deur die hemel in herinnering te bring. Laat jou denke toe om deur 'n kykie van sy heerlikheid tot rus te kom. Gaan sit waar die son op jou gesig skyn, maak jou oë toe en bring in jou verbeelding 'n prentjie van die wêreld wat vir ons wag. Dink aan die dag wanneer jy God van aangesig tot aangesig sal sien: 



"Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby" (Jesaja 60:19-20). 


Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Surviving Sorrow: Devotions for Parents in Mourning

Toe Kim se driejarige seun oorlede is, het sy heelwat hulpbronne oor rou gekry. Sy sê egter wat sy werklik nodig gehad het: "was iemand wat my kon raad gee om te lewe, nie net om te rou nie." In hierdie 5-dag leesplan de...

More

Baie dankie aan Moody Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek https://www.moodypublishers.com/books/evangelism-and-discipleship/surviving-sorrow/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid