Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Na EgskeidingVoorbeeld

Living Changed: After Divorce

DAG 6 VAN 7

Doel



Wanneer jy in die middel van iets pynliks is, maak dit selde sin omdat jy nog nie die uitkoms kan sien nie. Jy kan nie sien hoe hierdie ooit vir goed gebruik kan word nie. God belowe ons egter dat Hy alles tot ons beswil laat uitwerk. Alle dinge. Ja, selfs hierdie. 



Toe my egskeiding afgehandel is, het ek hartseer maar hoopvol gevoel. Al was ek onseker oor my toekoms, het ek geweet dat ek seker kon wees dat God 'n plan vir my lewe het en my egskeiding sou gebruik om iets goeds teweeg te bring. 



Na 'n rukkie het ek begin dink oor hoe ek die gawes en passies wat God my gegee het kan gebruik om ander vroue te help wat deur 'n egskeiding gaan. Ek het gedink hoe ek nie deur my egskeiding sou kon kom sonder die vroue wat my liefgehad het en my in daardie tyd aangemoedig het nie. Hulle het seker gemaak ek eet, hulle het oorgeslaap om my geselskap te hou, hulle het oor my gebid, en hulle het my oproepe enige tyd geneem. God het geweet dat ek daardie gemeenskap van vroue om my nodig gehad het en het hulle op die regte tyd in my lewe geplaas. Ek wou dit vir ander gee.



Dit was nie maklik nie, maar ek het 'n klein groepie begin. Ek moes met 'n kurrikulum vorendag kom, deurdruk deur die weke toe net een vrou opgedaag het, en enkelma's help om kindersorg uit te sorteer. Nog moeiliker, ek moes keer dat ons groep in negatiwiteit ontaard, hulle aanmoedig sonder om hul gevoelens ongeldig te maak, en leer hoe om nie hul laste saam met my huis toe te dra nie. Dit was elke oomblik die moeite werd. Die vroue wat God in daardie groep bymekaar gebring het, het mekaar nodig gehad en sal altyd 'n hegte band hê.



Nou kan ek in vreugde terug kyk na daardie groep. Uit iets aakligs en pynliks het God skoonheid en vriendskap gebring. Jy sien dit dalk nog nie, maar Hy staan gereed om dieselfde in jou lewe te doen. 



God gee so diep vir jou om dat Hy weier om jou te laat verdrink in jou hartseer. Laat Hy jou uit jou pyn trek deur dit 'n doel te gee. Vra Hom wat Hy in jou en deur jou wil doen. Miskien wil Hy hê jy moet iemand in jou lewe troos net deur jou verhaal te deel. Of dalk druk Hy dit op jou hart om jou verhaal in 'n blog of sosiale media-plasing te deel, 'n boek te skryf of 'n bediening te begin. 



Wees waaksaam, luister vir sy aansporings en volg sy leiding. Geen daad van gehoorsaamheid is te klein of onbeduidend nie. Jy kan presies wees wat iemand nodig het in die moeilikste oomblik van hul lewe.



Vader, dankie dat U my pyn ten goede gebruik. Dankie dat U vir my 'n doel gegee het en dat U my gebruik om u Naam te verheerlik. Maak my bewus van u aansporings en help my om u rigting duidelik te verstaan sodat ek 'n vaartuig vir u goeie werke kan wees. Help my om my fokus van myself te draai na u mense wat hulp nodig het. Bo alles wil ek u wil doen en U behaag. Dankie vir u leiding en liefde. In die kosbare naam van Jesus. Amen.


Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: After Divorce

Egskeiding bedroef die hart van God. Hy haat dit om ons in pyn te sien en waar ons vas hou aan skuld, skaamte en vrees. Ten spyte van ons foute, verlang Hy daarna dat ons sy genade moet aanvaar en weet dat ons gewaardeer...

More

Ons wil graag Changed Women's Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.changedokc.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid