Leesplan inligting

SuurlemoenseisoenVoorbeeld

Suurlemoenseisoen

DAG 3 VAN 7

Goeie nuus! 


Waaraan meet jy jou waarde? Aan jou suksesse of jou mislukkings?


Hopelik nie een van die twee nie, want dit is ’n skewe maat. Nóg jou grootste oorwinning, nóg jou ergste mislukking mag jou waarde bepaal.


’n Paar jaar gelede het ek erg gesukkel om my waarde reg te meet. Dit het gevoel asof alles misluk.


Een oggend lê ek heel beteuterd op my bank en vra die Here om my deur sy Heilige Gees te bemoedig, want siestog, foeitog.


As antwoord hoor ek ’n fluistering in my gees: Jy weeg mos nou ’n leeftyd se sukses op teen iets wat jy as ’n mislukking beskou, al is dit nie werklik ’n mislukking nie.


Ek het skielik regop gesit en nagedink oor my situasie. Ek het besef die Here is reg. Dit waarmee ek besig was, wás suksesvol. Daar was belangrike aspekte wat nie wou regkom nie, hoofsaaklik omdat die inwerkingstelling daarvan moeilik was en groter uitdagings gebied het as wat ek verwag het. Ál wat ek kon raaksien, was die probleme. Dít het my blind gemaak vir die dinge wat wél gewerk het.


Ons almal doen dit: Ons beskou wat nie werklik mislukkings is nie as mislukkings, bloot omdat dit nie heeltemal uitwerk soos ons gedink het dit moet nie. Maar selfs al hét ons misluk, is dit nie onoorkombaar nie. Talle hoogs suksesvolle en bekende mense het misluk voordat hulle sukses bereik het. Ons weet net nie van hul stryd nie.


Ons moet ons waarde met die regte maat meet. Dit kan moeilik wees wanneer jy midde-in ’n suurlemoenseisoen is. Ons meet ons waarde aan dít wat ons in ons lewe as waardevol beskou. As daar baie waarneembare waarde is, verhoog dit ons eiewaarde. Min waarneembare waarde verlaag ons eiewaarde.


Maar nie een van ons staan gelyk aan die waarneembare waarde in ons lewe nie.


Jy is nie jou foute nie. Jy is nie jou mislukkings nie. Jy is nie jou omstandighede nie. Jy is nie wie ander sê jy is nie. (Jy is ook nie jou suksesse nie!) 


Jy is wie God sê jy is.


Almal maak foute. Dit is maar hoe dit gaan. Almal misluk van tyd tot tyd. Baie van ons beland in situasies en omstandighede wat pynlik is en ons weet nie hoe om te hanteer nie.


Dit mag nie ons identiteit word nie. ’n Leeftyd van goeie besluite en suksesse kan nie ongedaan gemaak word deur enkele foute of mislukkings nie.


Sorg dat jy die skaal reg instel sodat jy jouself en jou lewe met die regte maat kan meet.



Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Suurlemoenseisoen

Kyk anders na jou lewe en dink in terme van die liefde en goedheid van God as ’n Vader, Verlosser en Vertrooster. Besef dat daar in Hóm altyd ’n oplossing is vir selfs die suurste suur wat die lewe kan opdis.

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid