Leesplan inligting

SuurlemoenseisoenVoorbeeld

Suurlemoenseisoen

DAG 1 VAN 7

Hy bid vir jou


Ons almal ken die verhaal van Petrus se verraad teenoor Jesus. Van hoe Jesus hom gewaarsku het dat die vyand hom soos koring wou sif. Van hoe vasbeslote hy was om Jesus selfs tot in gevangenskap en die dood te volg. Hoe sy goeie voornemens hom in die steek gelaat het en hy Jesus nie een keer nie, maar drie keer verloën het.


Wat egter vir my uitstaan in dié verhaal is die manier waarop Jesus vir Petrus gebid het voor al die dinge gebeur het. “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk” (Luk 22:32, my beklemtoning).


Ek sou heeltemal anders gebid het in dié situasie. As ek in Jesus se skoene was, sou my gebed só geklink het: “Vader, moet asseblief nie dat hy hierdie toets faal nie. Groot asseblief, en dankie. NS: Onthou, die toekoms van die kerk hang hiervan af … Amen.”


Jesus het geweet Petrus se mislukking sou hom weglei van sy roeping af. Dit was immers die vyand se hele doel daarmee. Het Jesus dan nie so pas oor Petrus geprofeteer nie? “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt 16:18). Vandaar Jesus se gebed dat Petrus sy geloof moes behou. Die struikeling self was hier vir Jesus van minder belang.


Petrus hét weggestap van sy bediening en weer gaan visvang. Ons lees dié hele verhaal in Johannes 21:15-17. Ek kan my skaars indink hoe Petrus moes voel. Waarskynlik verpletter en skaam. Ook dat sy toekoms daarmee heen was.


Dit is maklik om ons blind te staar op die nóú wanneer ons voor uitdagings te staan kom wat onoorwinlik lyk. Dit is so maklik om te wil wegstap, om te wil tou opgooi.


Een van die gevare van ’n suurlemoenseisoen is dat dit ons persepsie van God as liefdevolle Vader en van Jesus as Vriend en Verlosser kan skaad. Daarom is dié gebed juis ook so belangrik en van toepassing in die moeilike omstandighede waarin jy jou nou bevind.


Foute gebeur. Ons lewe word verpletter deur die besluite en keuses van ander mense. Hartseer en teleurstelling kruis ons pad. En hoewel die liefde van Jesus daar is om ons deur alles te dra, is sy grootste begeerte dat ons geloof ons nie te midde van al dié uitdagings in die steek sal laat nie. Hy weet dat elke mislukking, elke fout, elke struikeling of sonde hanteer kan word. Hy het reeds daarvoor aan die kruis gesterf.


Ongeag die uitdagings waarvoor jy in jou seisoen te staan kom, weet dít: Jesus bid dat ook jý jou geloof sal behou, na Hom sal terugkeer en jou broers en susters agterna sal gaan versterk.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Suurlemoenseisoen

Kyk anders na jou lewe en dink in terme van die liefde en goedheid van God as ’n Vader, Verlosser en Vertrooster. Besef dat daar in Hóm altyd ’n oplossing is vir selfs die suurste suur wat die lewe kan opdis.

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid