Leesplan inligting

Om Soos Jesus te LeefVoorbeeld

Living Like Jesus

DAG 1 VAN 5

Een van die beste maniere om Jesus te deel, is om soos Hy te leef.


Volgens onlangse studies is een van die top redes waarom mense nie meer kerk toe gaan nie, omdat hulle dink Christene is skynheilig. Eina, nê? Maar, kom ons dink daaroor. Die definisie van 'n skynheilige is iemand wat een ding sê — maar 'n ander ding doen.


Dink gou aan jou afgelope week. Het jy enige areas in jou lewe raakgesien waar jy sê jy volg Jesus, maar jou lewe vertel 'n ander storie?


Miskien is jy Sondag kerk toe, maar het Maandag begin skinder. Miskien sê jy by die jeuggroep jy streef na reinheid, maar jou webblaaier se geskiedenis vertel 'n ander storie. Miskien is jy 'n top student, maar jy het gekul in jou laaste eksamen. 


Luister, jy is nie alleen nie. Almal het skynheilige oomblikke, omdat ons almal onvolmaakte mense is wat foute maak. En wanneer ons gelowig is en ons sondes bely en om vergifnis vra, deel Jesus sy genade vrylik uit.


Om egter 'n skynheilige lewe te lei? Dis 'n probleem. Jesus het nie geduld met mense gehad wat maak of hulle Hom volg sonder om regtig te doen wat Hy sê nie.


Om die waarheid te sê, in Jesus se tyd op aarde was daar 'n groep mense genaamd die Fariseërs. Mense het hulle 


gehaat. Waarom? Omdat hulle baie van God geweet het, maar hulle het God nie regtig geken nie. Hulle was kenners van God se Wet, maar hulle was nie baie liefdevol nie. Jesus het redelik warm om die kraag geraak oor hulle.


In Matteus 23 het Jesus die Fariseërs "blinde gidse" genoem. Hy het vir hulle kwaad geword omdat hulle God se wette gebruik het om hulself belangrik te laat lyk — en om ander mense skaam te laat voel. Hy het gesê hulle weet dalk baie, maar niemand moet hul voorbeeld volg nie, omdat hulle die werklik belangrike aspekte van om Jesus te volg — soos geregtigheid, barmhartigheid en genade — ignoreer.


Mense wil nie 'n skynheilige volg nie. Maar, aan die anderkant, volg mense graag iemand wat doen wat hy sê hy sal doen. Dus, moenie 'n Fariseër word nie — iemand wat mense afkraak in plaas daarvan om hulle te bemoedig, iemand wat verkondig hoe "gelowig" hy is om homself te laat belangrik lyk of iemand wat mense van Jesus wegstoot deur een ding te sê en 'n ander te doen.


In plaas daarvan moet ons Jesus se liefde deel deur die liefde van Jesus te wys, want een van die beste maniere om Jesus te deel, is om soos Hy te leef. 



Dus, wat beteken dit vir ons? Dit beteken ons moet God om vergifnis vra vir die tye wat ons een ding gesê en 'n ander gedoen het. Dit beteken ons moet 'n doelbewuste besluit neem om skynheiligheid te vermy. En dit beteken ons moet weet — en doen — wat Jesus vir ons sê om te doen.


Kom ons kyk oor die volgende paar dae hoe dit lyk om soos Jesus te leef en lief te hê. 


Gebed: Vader, vergewe my vir die kere toe ek een ding gesê en 'n ander gedoen het. Dankie vir u genade wanneer ek foute maak. Help my om enige area van my lewe waar ek U nie volg nie, reg te stel. Help my om meer soos U te wees en ander lief te hê soos wat U hulle liefhet. In die Naam van Jesus. Amen.  


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Living Like Jesus

As ons Jesus met ander wil deel, moet ons soos Hy leef, soos Hy liefhê en soos Hy luister. In hierdie 5-dag leesplan gaan ons Jesus se lewe van naderby bekyk om te sien hoe ons behoort te leef.

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid