Leesplan inligting

Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina SmitVoorbeeld

Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina Smit

DAG 1 VAN 5

Onvoorwaardelike liefde


Die één ding wat my elke keer inspireer as dit werklik moeilik gaan, is die wete dat God my onvoorwaardelik liefhet, met al my foute en dat Hy dus net die heel beste vir my wil hê. Soos Paulus aan die gemeente in Rome beloof, kan absoluut niks ons van God se liefde skei nie (sien Romeine 8:31–32, 37–39). 


Vir baie mense is dit bykans onmoontlik om hierdie allesinsluitende liefde van ’n heilige God vir ’n onvolmaakte skepsel te aanvaar, juis omdat ons onsself so goed ken en presies weet hoe sondig ons is en hoeveel keer ons al vir God teleurgestel het. 


Gelukkig is God só anders as ons. Jy hoef jouself nie as sondeloos te bewys om sy liefde te ontvang nie; Hy het jou lief nét soos jy is. Vir my is dit wonderlik gerusstellend. Daar kom nooit ’n tydstip wanneer God besluit om jou af te skryf omdat jy sy genade een keer te veel goedkoop gemaak het nie. Anders as dié van God, is die liefde van mense nooit onvoorwaardelik nie. Ons verwag waarborge en bewyse van ons geliefdes, en selfs dan kry ons dit nie reg om soos God lief te hê nie. 


Deesdae ly die meeste mense aan allerlei vrese: Ons is bang vir die wreedaardige geweld en heersende misdaad wat ons land teister; ons is bang vir die vele vorme van bedrog waaraan ons onderwerp word. Indien jy op die oomblik steier onder al jou vrese, fokus gerus ’n slag op God se liefde vir jou. Want die enigste ding wat vrees vir goed uit jou lewe kan weer, is sy liefde. 


Hou gerus op om bang te wees, want God se volmaakte liefde behoort reeds aan jou! En Hy verlang daarna dat jy vir Hom sal sê dat jy Hom ook liefhet. Dan beloof Hy om jou vrese soos mis voor die son te laat verdwyn (sien Psalm 37:6). 


Gebed


Hemelse Vader, wanneer my vrese vir my te veel wil raak, dink ek net aan u onvoorwaardelike liefde vir my en dan kry ek elke keer weer nuwe moed. Ek loof U dat U daagliks daardie liefde vir my bewys deur die dinge wat U vir my doen, deur die manier waarop U vir my sorg en my bystaan. Ek kan U nooit genoeg vir u liefde dank nie. Amen. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Vreugde My Ontwyk Deur Nina Smit

Hierdie 5-dag-leesplan oor vreugde sal lesers verseker dat God hulle baie liefhet. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos vreugde, angs en vertroue in God), en eindig met ’n gebed en ’n Bybelvers. Die in...

More

Ons wil graag Struik Christian Media bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.struikchristianmedia.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid