Leesplan inligting

Ons Daaglikse Brood - Bybelse GrondbeginselsVoorbeeld

Our Daily Bread - Bible Basics

DAG 5 VAN 12

 



Konings (1050 - 586 v.C.)



Aan die einde van die vorige afdeling het ons gesien dat Israel op 'n geestelike laagtepunt was, in 'n staat van anargie, en in 'n swak militêre toestand. Die Filistyne het in krag toegeneem en het gedreig om die Jode te verswelg, een stad op 'n slag. 'n Geroep het weerklink vir 'n koning om Israel te verenig en dit te organiseer vir gevegte. Dus het die profeet-rigter Samuel Saul gesalf as Israel se eerste koning. 



Saul se 40 jaar van heerskappy was onrustig en oor die algemeen oneffektief. Hy het mense se respek afgedwing oor sy grootte, maar hy was glad nie bekwaam om 'n nasie te regeer nie. Hy het egter 'n jong man in sy koninkryk gehad, genaamd Dawid, met uitsonderlike bekwaamheid. Selfs voor Dawid die troon bestyg het, het hy die harte van die mense verower deur die Filistynse reus Goliat dood te maak en deur briljante militêre en persoonlike prestasies. Geleidelik het Saul sy houvas op homself en sy koninkryk verloor, en toe hy in 'n veldslag dood is, het Dawid koning geword. 



Dawid het die Filistyne gou onderdruk en begin om die omliggende nasies te annekseer. Israel het gegroei in rykdom, militêre krag en invloed. Dawid het daarin geslaag om die noorde en die suide te verenig, Jerusalem te verower en dit sy hoofstad te maak, en die aanbidding van God deur die hele land aan te moedig. Hy was Israel se beste koning. 



Een voorreg is hom egter ontneem. God het hom nie toegelaat om die tempel te bou nie. Dit was Salomo, sy seun en erfgenaam van die troon, beskore. Israel het sy hoogtepunt bereik met die inwyding van die manjifieke tempel wat hy gebou het. Deur Salomo het die nasie egter begin agteruitgaan. Hy het vroue en byvroue van baie lande af gebring, en hulle het hulle valse gelowe saam met hulle gebring. Hy het luuks geleef en die nasie se rykdom verkwis. Hy het nie vir die toekoms voorsiening gemaak nie. So, toe hy dood is, het die noorde onder sy dienskneg Jerobeam afgestig en 'n onafhanklike nasie geword. Toe Salomo gesterf het, het die mense na Rehabeam, die kroonprins, gekom met die pleidooi: 



“U vader het ons 'n swaar juk laat dra. As u nou die verpligtinge wat u vader ons opgelê het, minder maak en so die juk ligter maak wat hy ons laat dra het, sal ons u onderdane bly” (1 Konings 12:4). 



Maar Rehabeam het geweier, en die nasie het verdeel. Die noordelike koninkryk, wie se eerste koning Jerobeam was, het weggebreek. Hulle regeerders en baie van hulle mense het die heidense gode van die land gedien. Daar was sommige goeie konings in Juda, die suidelike koninkryk. Dis interessant dat die twee nasies later 'n politieke alliansie gevorm het om Sirië en later Assirië te beveg. Daar was koninklike ondertrouery en slegte mense het beide lande regeer: in Israel, die huis van Omri; in Juda, die bose Atalia. Die tyd van die konings was ook die tyd van die profete. Hierdie manne het 'n tweeledige doel vervul: 



Profetering—Hulle het sonde in die land uitgewys en mense tot berou geroep.



Voorspelling—Hulle het verder as die tye van Israel se dae van mislukking gekyk na die koms van die Messias en die totstandkoming van sy koninkryk. 



In die daaropvolgende dae het God 'n aantal profete opgewek om sy waarheid te verkondig en om die nasie te roep om terug te keer na Hom. Sommige van hierdie manne het met Israel gepraat, sommige het met Juda gepraat en ander het met die buitelandse magte gepraat.



Die dag van God se oordeel het finaal aangebreek. Die twee nasies het van binne bedorwe geword en elkeen is verslaan deur 'n kragtige mag van buite. Die noordelike koninkryk het in 722 v.C. voor die wrede Assiriërs geval. Hulle mense is gedwing om met ander gevangenes te ondertrou, en gou het hulle hul etniese, politieke, en geloofsidentiteit verloor. 



Die suidelike koninkryk het nog vir 150 jaar geduur, met oomblikke van glorie soos gedurende die regering van Asarja en Josia. Dit het tot 'n val gekom in 586 v.C. voor Nebukadnesar, koning van Babel. 



Om God te sien. Wanneer ons kyk na die periode van Israel se konings, sien ons God aan die werk op maniere wat ons help om Hom beter te verstaan. 'n Voorbeeld is die salwing van Dawid as koning en sy doen en late voordat hy die troon bestyg het (1 Samuel 16 - 31). Ons leer die volgende dinge:  



Soms gebruik God bemiddelaars om mense na spesiale plekke van diens te roep (16:1-13).



God se keuses is nie altyd op voorkoms gebaseer nie (16:7).



Dit is vir God moontlik om die laaste een eerste te laat kom (16:11).



God gebruik sy gesalfde om diegene wat magtig is in mense se oë, tot 'n val te bring (hoofstuk 17).



God waardeer lewe bo rituele (hoofstuk 21).



God gee ons genade om genadig te wees teenoor ons vyande (hoofstukke 24, 26).



Soms gebruik God die slegte omstandighede om sy doel te bereik (hoofstuk 31). 



Om onsself te sien. Die tye van Israel se konings wys ons ook onsself. Hou dop hoe hierdie insidente God se werk in ons eie tyd eggo.  



In Saul se jaloerse woede sien ons ons eie afgunstigheid op ander wat ons vervang (1 Samuel 18 - 19).



In Hanna se toegewyde gebed vir 'n seun sien ons ons eie begeerte vir God se seën (1 Samuel 1 - 2).



In die woorde van Psalm 1 sien ons ons eie pad na seën.



In Psalm 32 hoor ons ons eie uitroep om vergifnis.



In Psalm 100 vind ons ons eie gevoelens van lofprysing aan die Here.



In Prediker vind ons uitdrukking vir ons eie stryd met 'n sin van nutteloosheid (1:2).



In Elia se vlug van Isebel sien ons ons eie weifelende geloof voor 'n magtige vyand (1 Konings 19).



In die genesing van Hiskia sien ons ons eie behoefte vir die genesing wat net God kan gee (2 Konings 20).



In Sedekia se geringskatting van die profete sien ons ons eie weiering om God se Woord te gehoorsaam (2 Kronieke 36:11 - 14).







Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Our Daily Bread - Bible Basics

Is jy nuuskierig oor die Bybel? Is enigiets hiervan nog vir vandag toepaslik? Die Bybelse Grondbeginsels Leesplan bied jou 'n oorsig oor die Bybel en sal demonstreer hoe die Ou- en Nuwe Testament se boeke bymekaar inskak...

More

Baie dankie aan Ons Daaglikse Brood wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.ChristianUniversity.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid