NUMERI 20:1-13

NUMERI 20:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Die Israeliete, die hele volk, het in die eerste maand in die Sin-woestyn gekom. Hulle het by die stad Kades gaan woon. Mirjam het daar gesterf, en hulle het haar daar begrawe. Daar was nie water vir die volk nie, hulle het bymekaargekom en gekla teen Moses en Aäron. Die volk het vir Moses beskuldig. Hulle het gesê: “Ons wens ons het ook gesterf toe die Here ons familie laat sterf het. Hoekom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn gebring sodat ons en ons diere hier moet sterf? Hoekom het julle ons laat weggaan uit Egipte? Hoekom het julle ons na hierdie slegte plek gebring? 'n Mens kan nie hier koring saai nie, 'n mens kan ook nie vye of wingerde of granaatbome plant nie, en hier is nie water om te drink nie.” Moses en Aäron het weggegaan van die volk en hulle het gegaan na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het gebid. Toe het hulle die lig gesien wat om die Koning, die Here, is. Die Here het vir Moses gesê: “Neem Aäron se kierie en roep die volk bymekaar, jy en jou broer Aäron. Dan moet jy met die rots praat, hulle moet sien dat jy dit doen. Daar sal water uit die rots kom. Jy moet vir hulle die water uit die rots laat kom, sodat hulle en hulle diere kan drink.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het die kierie gaan haal wat voor die verbondskis was, en hy en Aäron het die volk bymekaargeroep voor die rots. Moses het vir hulle gesê: “Julle moet luister, julle wat so opstandig is! Moet ons vir julle water laat kom uit hierdie rots?” En toe lig Moses sy arm op en hy slaan die rots twee maal met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle diere het gedrink. Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Julle het nie geglo dat Ek sal doen wat Ek gesê het nie. Julle het nie vir die Israeliete gewys dat Ek die heilige God is nie. Daarom sal julle nie hierdie volk bring in die land wat Ek vir hulle gee nie.” Dit het gebeur by die Meriba-water. Die Israeliete het daar vir die Here beskuldig, en Hy het vir hulle gewys dat Hy die heilige God is.

NUMERI 20:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe. En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom. En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie. Daarop gaan Moses en Aäron van die vergadering af weg na die ingang van die tent van samekoms, en hulle het op hul aangesig geval; toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan hulle. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink. Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee. Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.

NUMERI 20:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe. Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is! Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe? Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.” Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word. Die Here sê toe vir Moses: “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.” Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.” Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

NUMERI 20:1-13 Die Boodskap (DB)

Vroeg in die lente het die Israeliete in die Sinwoestyn aangekom en by Kades oorgebly. Mirjam is daar dood en hulle het haar toe daar begrawe. Daar was nie genoeg water om te drink vir almal nie, en hulle was weer vir Moses en Aäron kwaad. Hulle het vir Moses gesê: “Ons wens ons het liewer saam met die res van ons mense daar by die tent van die Here doodgegaan! Hoekom het jy ons na hierdie woestyn toe gebring? Sodat ons en al ons vee kan doodgaan? Is dit wat jy wil hê? Waarom het jy ons uit Egipte uit na hierdie ellendige plek toe laat trek? Hier is net mooi niks, nie koring of vye of druiwe of granate nie, hier is nie eers drinkwater nie!” Moses en Aäron is toe van daar af weg na die tent toe waar die Here aanbid word. By die ingang van die tent het hulle op hulle knieë gaan staan om te bid. Die Here het toe in ’n baie helder lig aan hulle verskyn en vir Moses gesê: “Vat Aäron se kierie, dan maak julle twee die volk daar by die rots bymekaar. Jy moet daar voor hulle almal met die rots praat, dan sal daar water uit die rots uitkom. Die water wat daar uitkom, sal genoeg wees vir hulle en hulle vee om van te drink.” Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here gesê het, en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Hy sê toe vir hulle: “Luister hier, julle klomp skoorsoekers, moet ons vir julle water uit hierdie rots uit laat kom?” Toe lig Moses sy arm op en slaan die rots twee keer met die kierie. Skielik het daar ’n groot stroom water uit die rots uitgestroom. Almal, mens en dier, het genoeg gehad om te drink. Maar die Here het met Moses en Aäron geraas: “Omdat julle nie op My vertrou het nie en nie na My, die groot en heilige God, voor die volk geluister het nie, sal julle nie hierdie volk in die nuwe land inlei wat Ek vir hulle gee nie.” Die mense het toe die plek die waters van Meriba, “waters waar daar rusie gemaak word”, genoem omdat die Israeliete daar opstandig was teen die Here, en omdat Hy daar vir hulle gewys het hoe groot en heilig Hy is.

NUMERI 20:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Israeliete het in die vroeë lente in die Sinwoestyn aangekom. Hulle het by Kades kamp opgeslaan. Mirjam is daar dood en begrawe. Daar was nie genoeg water vir die mense om te drink nie. Hulle het toe op Moses en Aäron toegesak. Hulle het in opstand gekom teen Moses en vir hom gesê: “Ons moes maar liewer saam met die ander voor die HERE doodgegaan het! Hoekom het julle die HERE se mense na hierdie woestyn toe gelei sodat ons hier saam met ons vee kan doodgaan? Waarom het julle ons uit Egipte weggevat en ons na hierdie onleefbare plek gebring? Hier is nie landerye of vyebome of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie!” Moses en Aäron is van die mense af weg na die ingang van die tabernakel toe. Daar het hulle vooroor gekniel. Die magtige teenwoordigheid van die HERE het na hulle gekom. Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan vat die stok voor die altaar. Jy en Aäron moet al die mense bymekaarkry. Terwyl hulle kyk, moet jy die rots beveel om water te gee. Daar sal genoeg water uit die rots kom sodat die mense en hulle diere hulle versadig kan drink.” Moses het gemaak soos die HERE gesê het en die stok by die ark gaan haal. Moses en Aäron het die mense by die rots bymekaargekry. “Luister, julle opstandige mense,” het hy vir hulle gesê. “Moet daar vir julle water uit die rots kom?” Moses het sy hand opgelig en twee keer met die stok teen die rots geslaan. Daar het toe water uitgeborrel. Al die mense en hulle vee het gedrink totdat hulle versadig was. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Julle het My nie genoeg vertrou om vir die Israeliete te wys hoe heilig Ek is nie. Jy sal daarom nie hierdie mense inlei in die land wat Ek vir julle sal gee nie.” Vandaar die naam “Waters van Meriba”, want die Israeliete het daar met die HERE getwis. Daar het Hy vir hulle gewys hoe heilig Hy is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid