Numeri 20

20
Water vir mense wat kla
1Vroeg in die lente het die Israeliete in die Sinwoestyn aangekom en by Kades oorgebly. Mirjam is daar dood en hulle het haar toe daar begrawe.
2Daar was nie genoeg water om te drink vir almal nie, en hulle was weer vir Moses en Aäron kwaad. 3Hulle het vir Moses gesê: “Ons wens ons het liewer saam met die res van ons mense daar by die tent van die Here doodgegaan! 4Hoekom het jy ons na hierdie woestyn toe gebring? Sodat ons en al ons vee kan doodgaan? Is dit wat jy wil hê? 5Waarom het jy ons uit Egipte uit na hierdie ellendige plek toe laat trek? Hier is net mooi niks, nie koring of vye of druiwe of granate nie, hier is nie eers drinkwater nie!”
6Moses en Aäron is toe van daar af weg na die tent toe waar die Here aanbid word. By die ingang van die tent het hulle op hulle knieë gaan staan om te bid. Die Here het toe in ’n baie helder lig aan hulle verskyn 7en vir Moses gesê: 8“Vat Aäron se kierie, dan maak julle twee die volk daar by die rots bymekaar. Jy moet daar voor hulle almal met die rots praat, dan sal daar water uit die rots uitkom. Die water wat daar uitkom, sal genoeg wees vir hulle en hulle vee om van te drink.” 9Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here gesê het, 10en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Hy sê toe vir hulle: “Luister hier, julle klomp skoorsoekers, moet ons vir julle water uit hierdie rots uit laat kom?” 11Toe lig Moses sy arm op en slaan die rots twee keer met die kierie. Skielik het daar ’n groot stroom water uit die rots uitgestroom. Almal, mens en dier, het genoeg gehad om te drink.
12Maar die Here het met Moses en Aäron geraas: “Omdat julle nie op My vertrou het nie en nie na My, die groot en heilige God, voor die volk geluister het nie, sal julle nie hierdie volk in die nuwe land inlei wat Ek vir hulle gee nie.” 13Die mense het toe die plek die waters van Meriba, “waters waar daar rusie gemaak word”, genoem omdat die Israeliete daar opstandig was teen die Here, en omdat Hy daar vir hulle gewys het hoe groot en heilig Hy is.
Die koning van Edom weier om
Israel deur sy gebied te laat trek
14Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur om met hom te onderhandel. Hulle moes vir hom sê: “Hierdie boodskap is van u eie familie, die Israeliete af: U weet self hoe swaar ons al gehad het. 15Ons voorouers het mos na Egipte toe gegaan en baie lank daar gebly. Maar die Egiptenaars het ons en ons voorouers baie sleg behandel. 16Toe het ons by die Here hulp gaan soek, en Hy het ons gebede beantwoord en ’n engel gestuur om ons uit Egipte weg te lei. Op die oomblik is ons in Kades, ’n stad op die grens van u grondgebied. 17Ons vra toestemming om deur u land te trek. Ons sal nie deur u landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.”
18Die koning van Edom se antwoord was kort en kragtig: “Bly uit my land uit of maak julle reg vir oorlog!”
19Die Israeliete het toe weer mooi gevra: “Ons belowe om net op die grootpad te bly, en as ons of ons vee van die water in julle putte drink, sal ons daarvoor betaal. Ons is nie julle vyande nie, ons wil net die pad deur u land gebruik.”
20Maar die koning van Edom het botweg geweier en sy groot leër bymekaargemaak om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. 21Omdat Edom geweier het om Israel deur hulle land te laat trek, moes Israel toe maar van koers verander.
Aäron gaan dood
22Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom. 23Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê: 24“Aäron se einde is hier. Hy gaan sterf. Omdat julle twee by Meriba so hardkoppig was en nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy beslis nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete belowe het nie. 25Laat Aäron en sy seun Eleasar saam met jou teen die berg Hor uitklim. 26Daar moet Aäron sy priesterklere uittrek en dit vir sy seun gee om aan te trek. Aäron gaan daar op die berg sterf.”
27Moses het gedoen wat die Here gesê het. Die drie van hulle is toe saam die berg uit terwyl die volk hulle agterna gekyk het. 28Bo-op die berg het Moses Aäron sy priesterklere laat uittrek en dit toe vir sy seun Eleasar gegee om aan te trek. Aäron is daar op die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar van die berg afgekom. 29Toe die volk hoor dat Aäron dood is, het hulle ’n volle 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

Tans Gekies:

Numeri 20: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid