NEHEMIA 12:27-47

NEHEMIA 12:27-47 Bybel vir almal (ABA)

Toe hulle die muur van Jerusalem wou wy, het hulle die Leviete oral gesoek in die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het die Leviete na Jerusalem gebring. Die Leviete moes die muur wy en hulle moes feesvier, hulle moes die Here prys en musiek maak met simbale, met harpe en met liere. Hulle het die mense wat moes sing, bymekaar laat kom uit die plekke rondom Jerusalem, uit die woonplekke van die mense van Netofa, uit Bet-Gilgal en uit die velde rondom Geba en Asmawet. Die mense wat moes sing, het vir hulle woonplekke gebou rondom Jerusalem. Die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en daarna het hulle ook die ander mense, die poorte en die muur gereinig. Ek het gesê die leiers van Juda moet op die muur klim. Hulle moes in twee groot groepe staan om te sing. Die een groep moes op die muur na die suide toe loop tot by die Vullis-poort. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda het agter daardie groep geloop, en ook Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia. Ná hulle het priesters geloop wat trompette geblaas het. Hulle was Sagaria seun van Jonatan seun van Semaja seun van Mattanja seun van Miga seun van Sakkur seun van Asaf, en die priesters Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het gespeel op die musiek-instrumente van Dawid, die man van God. Die sekretaris Esra het voor hulle geloop. By die Fontein-poort het hulle reguit opgegaan by die trappe van die Dawidstad, daar waar die muur boontoe gaan, en toe verby die paleis van Dawid tot by die Water-poort by die oostekant. Die ander groep mense wat moes sing, het na die ander kant geloop. Ek en die ander helfte van die mense het agter hulle geloop, op die muur oor die Bakoond-toring tot by die Breë Muur, oor die Efraim-poort, die Ou Poort, die Vis-poort, die Gananel-toring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaap-poort, en by die Wag-poort het ons gaan staan. Daarna het die twee groepe wat moes sing, in die tempel gaan staan. Ek het ook daar gaan staan, en die helfte van die leiers het saam met my gaan staan. Die priesters Eljakim, Maäseja, Minjamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die groepe het gesing, Jisragja was hulle leier. Die mense het daardie dag baie offers gebring. Hulle was bly, God het hulle baie bly gemaak. Die vroue en kinders was ook bly. 'n Mens kon van ver hoor hoe Jerusalem feesvier. Hulle het daardie dag manne gekies en aangestel om die stoorkamers op te pas, die kamers waar hulle die presente gebêre het en ook die eerste koring en gars en vrugte, en die tiendes. Hulle moes in die stoorkamers die deel van die dinge bêre wat in die grond rondom die stede gegroei het en wat die priesters en Leviete moes kry. Die wette sê die priesters en die Leviete moet dit kry. Die mense van Juda het dit graag gegee vir die werk wat die priesters en Leviete gedoen het. Hulle het die werk vir hulle God gedoen en hulle het mense en dinge gereinig. Die mense wat moes sing en die poortwagte het hulle werk gedoen soos Dawid en sy seun Salomo gesê het. Lank gelede, in die tyd toe Dawid koning was en toe Asaf gelewe het, was daar 'n leier van die mense wat moes sing om vir God te prys en dankie te sê. In die tyd toe Serubbabel en Nehemia goewerneurs was, het al die Israeliete elke dag gesorg vir die mense wat moes sing en vir die poortwagte. Hulle het die gewyde presente vir die Leviete gewy, en die Leviete het die deel gewy wat die priesters moes kry.

NEHEMIA 12:27-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN by die inwyding van die muur van Jerusalem is die Leviete uit al hulle woonplekke gesoek, om hulle na Jerusalem te bring ten einde die inwyding te hou met vreugde en dankliedere en met gesang, simbale, harpe en siters. Toe het die seuns van die sangers byeengekom uit die streek rondom Jerusalem sowel as uit die dorpe van die Netofatiete, en uit Bet-Gilgal en uit die buiteveld van Geba en Asmáwet, want die sangers het vir hulle dorpe rondom Jerusalem gebou. En die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en die volk en die poorte en die muur gereinig. En ek het die owerstes van Juda bo-op die muur laat klim en twee groot kore opgestel en optogte, een na regs bo-op die muur na die Aspoort toe; en agter hulle aan het geloop: Hosája en die helfte van die owerstes van Juda, en Asárja, Esra en Mesúllam, Juda en Benjamin en Semája en Jeremia, en van die seuns van die priesters met trompette, Sagaría, die seun van Jónatan, die seun van Semája, die seun van Mattánja, die seun van Migája, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, en sy broers Semája en Asáreël, Mílalai, Gílalai, Maäi, Netáneël en Juda, Hanáni, met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God; en Esra, die skrifgeleerde, voor hulle uit. En by die Fonteinpoort het hulle, reg voor hulle uit, met die trappe van die Dawidstad opgegaan, waar die muur opgaan bo die huis van Dawid, tot by die Waterpoort teen die ooste. En die tweede koor het in teenoorgestelde rigting getrek, en ek met die helfte van die volk agteraan, bo-op die muur by die Bakoondtoring langs tot by die Breë Muur; verder by die Efraimspoort langs en die Ou Poort en die Vispoort en die toring Hanáneël en die toring Hamméa tot by die Skaapspoort; en hulle het bly staan by die Gevangenispoort. Toe het die twee kore in die huis van God gaan staan, en ek en die helfte van die leiers met my saam; en die priesters Éljakim, Maäséja, Mínjamin, Migája, Eljoënai, Sagaría, Hanánja met trompette, en Maäséja en Semája en Eleásar en Ussi en Jóhanan en Malkía en Elam en Eser. En die sangers het hulle laat hoor, en Jisrágja was die leier. En op dié dag het hulle groot offers gebring en was vrolik; want God het hulle groot vreugde verskaf, en ook die vroue en kinders was vrolik, sodat die vreugde van Jerusalem tot ver weg gehoor is. EN op dié dag is manne aangestel oor die kamers vir die voorrade, die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, om daarin die wetlike aandele volgens die landerye van die stede vir die priesters en die Leviete te versamel; want Juda was bly oor die priesters en die Leviete wat in die diens gestaan het. En hulle het die ordening van hulle God en die reinigingsordening onderhou; ook die sangers en die poortwagters, volgens die bevel van Dawid en sy seun Salomo. Want in die dae van Dawid en Asaf, van die voortyd af, lê die oorsprong van die sangers en leiers van die lofsang en die danksegging aan God. En die hele Israel het in die dae van Serubbábel en in die dae van Nehemía die aandele van die sangers en van die poortwagters gegee, na die eis van elke dag; en hulle het die heilige gawes afgegee aan die Leviete, en die Leviete aan die seuns van Aäron.

NEHEMIA 12:27-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

Met die oog op die inwyding van die muur om Jerusalem is die Leviete oral in hulle woonplekke opgespoor en na Jerusalem toe gebring. Hulle moes die inwyding feestelik vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere. Die sangers is bymekaargebring uit die omgewing van Jerusalem, uit die Netofanedersettings, uit Bet-Gilgal en uit die boerderygebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers se nedersettings was almal om Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die volk, die poorte en die muur. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel. Die een het ek suid op die muur langs laat gaan tot by die Vullispoort. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die gesagvoerders van Juda geloop, en verder Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia, 'n aantal priesters met trompette, Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf, en sy ampsgenote Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God. Esra die skrifgeleerde was voor hulle. By die Fonteinpoort is hulle reguit op met die trappe na die Dawidstad toe, met die skuinste teen die muur bokant die paleis van Dawid langs tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die ander koor het noord geloop. Ek en die ander helfte van die mense het gevolg al met die muur langs oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur, oor die Efraimspoort, die Ou Poort, die Vispoort, die Gananeltoring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaappoort. By die Wagpoort het hulle gaan staan. Die twee kore het daarna in die tempel plek ingeneem, ek ook, en die helfte van die ampsdraers saam met my. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die kore het gesing onder leiding van Jisragja. Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor. Daardie dag is daar ook manne aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, sodat daarin die deel opgeberg kon word wat volgens wet die priesters en die Leviete uit die boerderygebiede van die stede toekom. Die priesters en die Leviete wat diens gedoen het, het voordeel getrek uit die blydskap van Juda. Die priesters en die Leviete het die diensbeurte ter verering van hulle God en die diensbeurte om die reiniging te doen, waargeneem. Die werk van die sangers en die poortwagte is gereël volgens die voorskrif van Dawid en sy seun Salomo. Daar was reeds in die ou tyd, in die tyd van Dawid en Asaf, leiers van die sangers met die oog op die lof- en dankliedere ter ere van God. In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook die offergawes vir die Leviete opsy gesit en die Leviete het dan weer dié van die priesters opsy gesit.

NEHEMIA 12:27-47 Die Boodskap (DB)

Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere. Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak. Toe het ek die leiers van Juda op die muur laat klim en twee groot kore saamgestel wat om die stad moes loop terwyl hulle die Here loof en prys. Die een koor het in ’n suidelike rigting al op die muur langs geloop tot by die Mishek. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda is gevolg deur Asarja, Esra, Mesullam, Juda, Benjamin, Semaja en Jeremia. Daar was ook priesters met trompette: Sagaria die seun van Jonatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, en sy kollegas Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het die musiekinstrumente bespeel wat Dawid, die man van God, voorgeskryf het. Esra het die optog gelei. By die Fonteinhek is hulle reguit met die trap op wat in die rigting van die Dawidstad gelei het. Hulle het verby Dawid se paleis geloop en van daar af is hulle ooswaarts na die Waterhek toe. Die ander koor het noord op die muur geloop. Ek en die ander helfte van die mense het hulle gevolg. Ons het by die Bakoondtoring verbygeloop tot by die Breë Muur. Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan. Die twee kore is toe van daar af tempel toe waar hulle op die plek wat vir hulle aangewys is, gaan staan het. Ek en die groep leiers saam met my het ook ons plekke ingeneem. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, gevolg deur Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die koor onder leiding van Jisragja het uit volle bors tot eer van die Here gesing. Op daardie dag het hulle baie offers gebring. Die mense was opgeruimd en vrolik, want God het hulle in staat gestel om die bouprojek suksesvol af te handel. Almal, ook die vroue en kinders, het aan die feesviering deelgeneem. Jy kon die vrolike klanke en musiek van ver af hoor. Op daardie dag het hulle ook mense aangestel om in beheer te wees van die store waarin die bydraes vir die tempel gebêre is. Dit het die eerste offers van die oes en die tiendes ingesluit. Hierdie mense was verantwoordelik daarvoor om hierdie offers op die plase buitekant die stede te gaan haal sodat die priesters en die Leviete daarvan kon leef, soos die Here dit voorgeskryf het. Die mense het dit met vrymoedigheid gegee, want hulle was baie bly dat die priesters en die Leviete weer hulle werk kon doen. Hulle het hulle diensbeurte in die tempel getrou nagekom en ook die regte offers vir die volk se sondes gedoen, soos die Here verwag. Net so het die tempelsangers en die hekwagte ook hulle taak uitgevoer soos dit deur Dawid en sy seun Salomo voorgeskryf is. Dit was alreeds in die tyd van Dawid en Asaf die gebruik om musikante en sangers te hê wat die lofprysing in die tempel tot eer van God gelei het. In Serubbabel en Nehemia se tyd het die mense elke dag gesorg dat die sangers en die hekwagte genoeg kos gehad het. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Dié het weer op hulle beurt gesorg dat die priesters ook hulle deel kry.

NEHEMIA 12:27-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem toe te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en die musiek van simbale, harpe en liere aan die feesvierings deelneem. Hulle het sangers uit die omgewing van Jerusalem en uit die Netofanedorpies bymekaargebring. Verder ook uit Bet-Gilgal en uit die landelike gebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers het almal hulle blyplekke rondom Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die mense, die poorte en die muur. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel om lofliedere te sing. Ek het die een koor suid op die muur langs laat loop tot by die Vullispoort. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die leiers van Juda geloop, en verder Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia. Daar het ook ’n aantal priesters met trompette geloop. Hulle was Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf. Laastens het sy medewerkers Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, gekom. Die skrifkenner Esra het die optog gelei. By die Fonteinpoort het hulle reguit met die trappe teen die skuinste van die muur opgestap na die Dawidstad toe. Hulle het bokant die paleis van Dawid langs gestap tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die ander koor wat ook lofliedere gesing het, het noord geloop. Ek en die ander helfte van die ander mense het hulle op die muur langs gevolg, oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur, van daar af verder bokant die Efraimspoort verby na die Ou Stadspoort toe, verby die Vispoort en die Gananeltoring. Ons het aangehou verby die Toring van die Honderd tot by die Skaappoort en toe by die Wagpoort gaan staan. Die twee kore het daarna hulle plekke in die tempel ingeneem. Ek en die helfte van die leiers saam met my het dieselfde gedoen. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas. Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser het dit ook gedoen. Die kore het onder leiding van Jisragja gesing. Hulle het daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly, want God het hulle baie rede gegee om bly te wees. Die vroue en kinders was ook bly. ’n Mens kon die blydskap van die mense in Jerusalem ver hoor. Daardie dag het hulle mans aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerste deel van die oes en die tiendes. Dit was hulle verantwoordelikheid om die deel in te samel wat die wet bepaal het dat die priesters en die Leviete uit die landerye om die dorpe moes kry. Die mense van Juda was baie tevrede met die werk wat die priesters en die Leviete gedoen het. Die priesters en die Leviete het hulle beurte in diens van God gedoen. Hulle het ook die voorskrifte vir die reiniging nagekom. Die sangers en die poortwagte het ook hulle werk gedoen volgens die reëls wat Dawid en sy seun Salomo neergelê het. Die tradisie om koorleiers te hê wat die koor in lof- en dankliedere lei, het reeds in die tyd van Dawid en Asaf al bestaan. In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Die Leviete het op hulle beurt weer gesorg dat die priesters, die nageslag van Aäron, dié deel kry wat hulle toekom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid