Nehemia 12

12
’n Lys van priesters en Leviete
1Die volgende is ’n lys van die priesters en Leviete wat saam met Serubbabel die seun van Sealtiël en Jesua die hoëpriester uit die ballingskap teruggekom het: Seraja, Jeremia, Esra, 2Amarja, Malluk, Gattus, 3Sekanja, Regum, Merajot, 4Iddo, Ginneton, Abia, 5Mijamin, Maädja, Bilga, 6Semaja, Jojarib, Jedaja, 7Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja. Hulle was die leiers van die priesters en van hulle kollegas in Jesua se tyd.
8Die Leviete was Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja. Mattanja en sy kollegas was verantwoordelik vir die lofprysing in die tempel. 9Hulle kollegas Bakbukja en Unni het regoor hulle gestaan tydens die diens.
10Jesua was Jojakim se pa, Jojakim op sy beurt was Eljasib se pa, Eljasib was Jojada se pa, 11Jojada was Jonatan se pa en Jonatan was die pa van Jaddua.
Die hoofde van die priesterlike families
12Tydens Jojakim se regering was die volgende mans aan die hoof van die families van priesters: Meraja was hoof van die familie Seraja, Gananja van Jeremia, 13Mesullam van Esra, Joganan van Amarja, 14Jonatan van Malluk, Josef van Sebanja, 15Adna van Garim, Gelkai van Merajot, 16Sagaria van Iddo, Mesullam van Ginneton, 17Sikri van Abia, Piltai van Mijamin en Maädja, 18Sammua van Bilga, Jonatan van Semaja, 19Mattenai van Jojarib, Ussi van Jedaja, 20Kallai van Sallu, Eber van Amok, 21Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja.
Die Leviete
22Die hoofde van die families van die Leviete is in die tyd van die priesters Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua opgeskryf. Dit was tydens die regering van Darius die Pers.
23Die Levitiese familiehoofde is in die Kroniekeboeke opgeskryf tot die tyd van Joganan die seun van Eljasib. 24Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua die seun van Kadmiël. Tydens die lofprysing-en-aanbiddingsessies het hulle kollegas regoor hulle gestaan volgens Dawid, die man van God, se voorskrif. 25Dit was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam.
Talmon en Akkub was die hekwagte wat in bevel was van die voorraadkamers by die hekke.
26Hierdie mense het in die tyd van Jojakim die seun van Jesua, die kleinseun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen.
Die inwyding van Jerusalem se nuwe muur
27Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere. 28Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa 29en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou. 30Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak.
31Toe het ek die leiers van Juda op die muur laat klim en twee groot kore saamgestel wat om die stad moes loop terwyl hulle die Here loof en prys. Die een koor het in ’n suidelike rigting al op die muur langs geloop tot by die Mishek. 32Hosaja en die helfte van die leiers van Juda is gevolg deur 33Asarja, Esra, Mesullam, 34Juda, Benjamin, Semaja en Jeremia. 35Daar was ook priesters met trompette: Sagaria die seun van Jonatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, 36en sy kollegas Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het die musiekinstrumente bespeel wat Dawid, die man van God, voorgeskryf het. Esra het die optog gelei. 37By die Fonteinhek is hulle reguit met die trap op wat in die rigting van die Dawidstad gelei het. Hulle het verby Dawid se paleis geloop en van daar af is hulle ooswaarts na die Waterhek toe.
38Die ander koor het noord op die muur geloop. Ek en die ander helfte van die mense het hulle gevolg. Ons het by die Bakoondtoring verbygeloop tot by die Breë Muur. 39Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan.
40Die twee kore is toe van daar af tempel toe waar hulle op die plek wat vir hulle aangewys is, gaan staan het. Ek en die groep leiers saam met my het ook ons plekke ingeneem. 41Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, 42gevolg deur Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die koor onder leiding van Jisragja het uit volle bors tot eer van die Here gesing. 43Op daardie dag het hulle baie offers gebring. Die mense was opgeruimd en vrolik, want God het hulle in staat gestel om die bouprojek suksesvol af te handel. Almal, ook die vroue en kinders, het aan die feesviering deelgeneem. Jy kon die vrolike klanke en musiek van ver af hoor.
Die tempelonderhoud
44Op daardie dag het hulle ook mense aangestel om in beheer te wees van die store waarin die bydraes vir die tempel gebêre is. Dit het die eerste offers van die oes en die tiendes ingesluit. Hierdie mense was verantwoordelik daarvoor om hierdie offers op die plase buitekant die stede te gaan haal sodat die priesters en die Leviete daarvan kon leef, soos die Here dit voorgeskryf het. Die mense het dit met vrymoedigheid gegee, want hulle was baie bly dat die priesters en die Leviete weer hulle werk kon doen. 45Hulle het hulle diensbeurte in die tempel getrou nagekom en ook die regte offers vir die volk se sondes gedoen, soos die Here verwag. Net so het die tempelsangers en die hekwagte ook hulle taak uitgevoer soos dit deur Dawid en sy seun Salomo voorgeskryf is. 46Dit was alreeds in die tyd van Dawid en Asaf die gebruik om musikante en sangers te hê wat die lofprysing in die tempel tot eer van God gelei het. 47In Serubbabel en Nehemia se tyd het die mense elke dag gesorg dat die sangers en die hekwagte genoeg kos gehad het. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Dié het weer op hulle beurt gesorg dat die priesters ook hulle deel kry.

Tans Gekies:

Nehemia 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid