Markus 14:12-26

Markus 14:12-26 DB

Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid