MARKUS 14

14
Jesus se dood word beplan
(Matt. 26:1-5; Luk. 22:1-2; Joh. 11:45-53)
1Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”
Jesus word in Betanië gesalf
(Matt. 26:6-13; Joh. 12:1-8)
3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.
6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”
Judas onderneem om Jesus te verraai
(Matt. 26:14-16; Luk. 22:3-6)
10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai.
Die paasmaaltyd word voorberei
(Matt. 26:17-19; Luk. 22:7-13)
12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”
13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ 15Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”
16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.
Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai
(Matt. 26:20-25; Luk. 22:14,21-23; Joh. 13:18-30)
17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”
19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”
20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
Die instelling van die nagmaal
(Matt. 26:26-29; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25)
22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”
23Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”
Petrus sal Jesus verloën
(Matt. 26:30-35; Luk. 22:31-34; Joh. 13:36-38)
26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:
“Ek sal die herder doodmaak,
en die skape sal uitmekaar gejaag word.
28“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”
29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
En al die ander het dieselfde gesê.
Jesus in Getsemane
(Matt. 26:36-46; Luk. 22:39-46; Joh. 18:1-2)
32Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”
33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”
35Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.
41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”
Jesus word gevange geneem
(Matt. 26:47-56; Luk. 22:47-53; Joh. 18:3-12)
43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”
45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.
47Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”
50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.
51'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.
Jesus voor die Joodse Raad
(Matt. 26:57-68; Luk. 22:54-55,63-71; Joh. 18:15-16,24)
53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.
54Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.
55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om 'n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.
57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae 'n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.
60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.
62“Ek is,” het Jesus geantwoord,
“en julle sal die Seun van die mens sien
waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is,
en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”
63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”
Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”
65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer 'n bietjie!”
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.
Petrus verloën Jesus
(Matt. 26:69-75; Luk. 22:56-62; Joh. 18:17-18,25-27)
66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”
68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het 'n haan gekraai.
69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.
'n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook 'n Galileër.”
71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”
72En onmiddellik het die haan 'n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan 'n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”
En hy het in trane uitgebars.

Tans Gekies:

MARKUS 14: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid