MARKUS 13:14-23

MARKUS 13:14-23 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan op 'n plek waar dit nie moet wees nie. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. Iemand wat dan op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers in die huis ingaan om iets te gaan haal nie. En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Julle moet bid dat hierdie dinge nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal mense baie swaar kry. Tot nou toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd kan aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk, daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal tekens wys en wonderwerke doen. Hulle sal probeer om die mense van God verkeerd te laat doen. Maar God het hulle gekies, daarom sal die vals profete dit nie regkry nie. “Julle moet oppas! Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.”

MARKUS 13:14-23 Die Boodskap (DB)

“Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid