MARKUS 13:14-23

MARKUS 13:14-23 NLV

“Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie. Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 13:14-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid