Markus 13:14-23

Markus 13:14-23 DB

“Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 13:14-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid