MATTEUS 4:1-11

MATTEUS 4:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die Heilige Gees het daarna vir Jesus na die woestyn geneem sodat die duiwel kon probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus het 40 dae en 40 nagte lank niks geëet nie. Hy het toe honger geword. Die duiwel het na Jesus toe gekom en hy het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê dan vir hierdie klippe hulle moet brode word.” Maar Jesus antwoord hom: “In die Ou Testament is geskryf: “ 'n Mens lewe nie net van brood nie. As jy waarlik wil lewe, dan moet jy luister na elke woord wat God sê.” Daarna het die duiwel vir Jesus saamgeneem na die gewyde stad en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring dan hier af, want in die Ou Testament is geskryf: “ God sal vir sy engele sê hulle moet jou beskerm, en hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie jou voet sal stamp teen 'n klip nie.” Jesus sê toe vir die duiwel: “Daar is ook in die Ou Testament geskryf: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ” Die duiwel het daarna vir Jesus na 'n baie hoë berg geneem. Hy het vir Hom al die lande van die wêreld gewys en al die mooi dinge in die lande. Die duiwel sê toe vir Jesus: “Ek sal dit alles vir Jou gee as Jy voor my kniel en my aanbid.” Jesus het vir die duiwel gesê: “Gaan weg, Satan, want in die Ou Testament is geskryf: “ Jy moet jou God die Here aanbid en net vir Hom dien.” Die duiwel het toe weggegaan van Jesus. Daar het engele gekom en hulle het vir Jesus gesorg.

MATTEUS 4:1-11 Die Boodskap (DB)

Kort na sy doop het die Heilige Gees Jesus na die woestyn toe laat gaan. Daar moes Hy deur die duiwel op die proef gestel word. Veertig dae lank het Jesus niks geëet nie. Hy het toe honger geword. Dit was natuurlik net die geleentheid waarop die duiwel gewag het. Hy het vir Jesus kom sê: “Kyk, as jy regtig God se Seun is, sê dan vir hierdie klippe om in brood te verander.” Jesus het egter dadelik ’n antwoord vir Satan gereed gehad: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. Nee, ’n mens leef van alles wat God sê.’” Daarna het die duiwel Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het vir sy engele gesê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Die duiwel was egter nog nie klaar met sy versoekings nie. Hy het Jesus na die top van ’n baie hoë berg gevat. Van daar af het hy Hom al die lande van die wêreld gewys met al hulle glans en rykdom. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune. Ek gee jou al hierdie lande op ’n skinkbord. Daar is egter net een voorwaarde: buig gou voor my en aanbid my as jou god.” Daarop het Jesus skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Na hierdie woorde het die duiwel Jesus uitgelos. Baie engele het toe na Jesus toe gekom. Hulle het Hom versorg met alles wat Hy nodig gehad het.

MATTEUS 4:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word. Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word. Toe kom die versoeker na Hom toe en sê vir Hom: “As jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Nee! Daar staan in die Skrif geskryf: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.’” Daarna neem die duiwel Hom Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste spits van die tempel staan. Toe sê hy vir Hom: “As jy regtig die Seun van God is, spring dan hier af. Daar staan mos in die Skrif geskryf: ‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm. En hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie dalk jou voet teen ’n klip stamp nie.’” Jesus het hom geantwoord: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En Hom alleen moet jy dien.’” Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ’n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal. Daarop sê hy vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.” Toe sê Jesus vir hom: “Trap, Satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’” Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid