MATTEUS 4:1-11

MATTEUS 4:1-11 NLV

Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word. Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word. Toe kom die versoeker na Hom toe en sê vir Hom: “As jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Nee! Daar staan in die Skrif geskryf: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.’” Daarna neem die duiwel Hom Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste spits van die tempel staan. Toe sê hy vir Hom: “As jy regtig die Seun van God is, spring dan hier af. Daar staan mos in die Skrif geskryf: ‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm. En hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie dalk jou voet teen ’n klip stamp nie.’” Jesus het hom geantwoord: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En Hom alleen moet jy dien.’” Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ’n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal. Daarop sê hy vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.” Toe sê Jesus vir hom: “Trap, Satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’” Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid