MATTEUS 4

4
Die versoeking in die woestyn
(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)
1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
“'n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom. ”
5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
“en:
“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ”
7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ”
8Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”
10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ”
11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.
Die eerste optrede van Jesus
(Mark. 1:14-15; Luk. 4:14-15)
12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied
van Naftali, aan die seekant
en oorkant die Jordaan,
Galilea waar die heidene woon!
16Die volk wat in duisternis woon,
het 'n groot lig gesien;
hulle wat in die skemerland
van die dood lewe,
vir hulle het die lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Die roeping van die eerste dissipels
(Mark. 1:16-20; Luk. 5:1-11)
18Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
20Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
21Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.
Weldade aan baie mense
(Luk. 6:17-19)
23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.

Tans Gekies:

MATTEUS 4: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid