MATTEUS 19:1-9

MATTEUS 19:1-9 Die Boodskap (DB)

Jesus het daarna uit Galilea vertrek. Hy is na Judea toe, daar oorkant die Jordaan. Oudergewoonte het ’n groot skare mense na Hom toe gestroom. Jesus het al die siekes onder hulle gesond gemaak. ’n Klomp Fariseërs het ook daar opgedaag. Hulle wou Jesus verneder met ’n strikvraag. “Kom ons hoor ’n bietjie wat jy dink. Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?” Jesus het dadelik ’n teenvraag vir hulle gereed gehad: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Weet julle nie daar staan geskryf dat God heel aan die begin man en vrou gemaak het om lewenslank by mekaar te bly nie? Daarom het God gesê: ‘Die dag wanneer ’n man trou, sal hy nie meer by sy ouers bly nie. Nee, hy en sy vrou sal dan op hulle eie gaan bly. Hulle sal dan liggaamlik en geestelik een word.’ “In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.” Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.” “Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë. “Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid