MATTEUS 19:1-9

MATTEUS 19:1-9 NLV

Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy van Galilea vertrek en in Perea aangekom. Hierdie gebied het aan Judea gegrens, maar was aan die oostekant van die Jordaan geleë. ’n Massa mense het Hom daarheen gevolg, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ’n poging om Hom in ’n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?” Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie? En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.” Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?” Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid