MATTHÉÜS 19:1-9

MATTHÉÜS 19:1-9 AFR53

EN toe Jesus hierdie woorde geëindig het, het Hy van Galiléa vertrek en in die gebied van Judéa oorkant die Jordaan gekom. En groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak. Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit 'n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om 'n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid