LUKAS 4:1-13

LUKAS 4:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weggegaan van die Jordaan-rivier. Die Heilige Gees was in Jesus en die Gees het Hom na die woestyn gelei. Daar het die duiwel 40 dae lank probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus het niks geëet nie, en toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘ 'n Mens lewe nie net van brood nie.’ ” Toe het die duiwel vir Jesus na 'n hoë plek geneem. Hy het vir Jesus vinnig al die lande in die wêreld gewys. Die duiwel het vir Jesus gesê: “Ek sal vir Jou al hierdie lande en al hulle goed gee, want God het dit alles vir my gegee, en ek kan dit gee vir wie ek wil. As Jy my aanbid, dan sal Jy dit alles kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: “ Jy moet jou God die Here aanbid en net vir Hom dien.” Toe het die duiwel vir Jesus na Jerusalem geneem en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring van hierdie plek af, want in die Ou Testament is geskryf: “ God sal vir sy engele sê hulle moet jou beskerm,” en “hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.” Maar Jesus het vir die duiwel geantwoord: “God het ook in die Ou Testament gesê: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ” Die duiwel het opgehou probeer om Jesus verkeerd te laat doen, en hy het weggegaan van Hom. Later het hy weer gekom.

LUKAS 4:1-13 Die Boodskap (DB)

Jesus was vol van die krag van die Heilige Gees toe Hy van die Jordaanrivier af teruggekom het. Die Gees het Hom toe na die woestyn toe gelei. Daar het die duiwel Hom ingewag. Veertig dae lank het hy Hom getreiter met allerhande versoekings. Gedurende daardie tyd het Jesus niks te ete gehad nie. Toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het hierdie kans aangegryp en vir Jesus gesê: “Jy sê mos jy is die Seun van God. Wys dit nou ’n slag! Sê ’n bietjie vir hierdie klip om in brood te verander.” Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan in die Bybel: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. God se Woord is belangriker as kos.’” Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.” Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’ En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid