Lukas 4

4
Die duiwel probeer om Jesus verkeerd te laat doen
(Ook Matt 4:1-11; Mark 1:12-13)
1Jesus het weggegaan van die Jordaan-rivier. Die Heilige Gees was in Jesus en die Gees het Hom na die woestyn gelei. 2Daar het die duiwel 40 dae lank probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus het niks geëet nie, en toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. 3Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”
4Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘ 'n Mens lewe nie net van brood nie.’ ”
5Toe het die duiwel vir Jesus na 'n hoë plek geneem. Hy het vir Jesus vinnig al die lande in die wêreld gewys. 6Die duiwel het vir Jesus gesê: “Ek sal vir Jou al hierdie lande en al hulle goed gee, want God het dit alles vir my gegee, en ek kan dit gee vir wie ek wil. 7As Jy my aanbid, dan sal Jy dit alles kry.”
8Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf:
“ Jy moet jou God die Here aanbid
en net vir Hom dien.”
9Toe het die duiwel vir Jesus na Jerusalem geneem en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring van hierdie plek af, 10want in die Ou Testament is geskryf:
“ God sal vir sy engele sê
hulle moet jou beskerm,”
11en
“hulle sal jou op
hulle hande dra
sodat jy nie jou voet
teen 'n klip sal stamp nie.”
12Maar Jesus het vir die duiwel geantwoord: “God het ook in die Ou Testament gesê: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ”
13Die duiwel het opgehou probeer om Jesus verkeerd te laat doen, en hy het weggegaan van Hom. Later het hy weer gekom.
Jesus in Galilea
(Ook Matt 4:12,17; Mark 1:14-15; Joh 4:3,45)
14Jesus het teruggegaan na Galilea. Die Heilige Gees het Hom sterk gemaak. In Galilea het al die mense oor Jesus gepraat. 15Jesus het vir hulle in die sinagoges geleer, en almal het gedink Hy is wonderlik.
Die mense van Nasaret jaag vir Jesus weg
(Ook Matt 13:53-58; Mark 6:1-6)
16Jesus het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het altyd op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan. Eendag het Hy in die sinagoge opgestaan om vir die mense uit die Bybel te lees. 17Iemand het die boek van die profeet Jesaja vir Hom gegee. Jesus het die boek oopgemaak en Hy het gelees wat Jesaja geskryf het:
18 Die Gees van die Here lei my.
Die Here het my gesalf en gesê
ek moet die goeie boodskap
vir die arm mense bring.
Hy het my gestuur om vir
die gevangenes te sê
hulle is vry, hulle kan uitgaan.
Hy het my gestuur om vir
die blinde mense te sê
hulle sal weer kan sien.
Ek moet almal vrymaak
wat swaarkry.
19Ek moet sê dit is nou die tyd
wanneer die Here
alles sal regmaak.
20Daarna het Jesus die boek toegemaak en Hy het dit teruggegee vir die persoon wat dit moes bêre. Jesus het gaan sit en almal in die sinagoge het na Jesus gekyk. 21Jesus het met die mense begin praat en gesê: “Vandag het God laat gebeur wat Ek uit die Bybel gelees het.”
22Almal het goed gepraat oor Jesus. Hulle het gedink die dinge wat Hy sê, is wonderlik. Hulle het vir mekaar gesê: “Hy is Josef se seun, en luister watter wonderlike dinge sê hy!”
23Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moenie te gou bly word oor My nie. Julle sal later vir My wil sê: ‘As jy 'n dokter wil wees, dan moet jy eers jouself gesond maak. Ons het gehoor van al die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het. Jy moet dieselfde dinge nou ook hier doen, hier in die stad waar jy grootgeword het.’ ” 24Jesus het ook gesê: “Maar Ek sê vir julle: Mense hou nie van 'n profeet in die stad waar sy mense woon nie. 25Luister nou goed: In die tyd toe Elia in die land Israel gelewe het, het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie, en daar was baie min kos op die hele aarde. Daar was baie weduwees in die land Israel, 26maar die Here het nie vir Elia na een van hulle toe gestuur nie, net na 'n weduwee in die stad Sarepta in Sidon. 27En in die tyd toe die profeet Elisa gelewe het, was daar baie melaatse mense in die land Israel. Maar die Here het nie een van hulle gesond gemaak nie, net vir Naäman, die Siriër.”
28Almal in die sinagoge het kwaad geword toe hulle hoor wat Jesus sê. 29Hulle het opgestaan en vir Jesus weggejaag uit die stad. Hulle stad was op 'n berg, en hulle het Hom gevat tot by die kant van die berg. Hulle wou Hom daar afstamp. 30Maar Jesus het tussen die mense deur geloop en weggegaan.
Die man in wie die gees van 'n onrein duiwel was
(Ook Mark 1:21-28)
31Jesus het toe na Kapernaum, 'n stad in Galilea, gegaan. Daar het Hy elke Sabbatdag vir die mense geleer. 32Die mense was baie verbaas oor die dinge wat Hy vir hulle geleer het, want hulle het besef dat wat Hy gesê het, van God gekom het.
33In die sinagoge was daar 'n man, daar was 'n onrein gees in die man. Die gees het hard geskree en gesê: 34“Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is. U is die Heilige wat van God kom.”
35Jesus het met die gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!”
Almal het gesien die duiwel gooi die man op die grond. Toe het hy uit die man gegaan, hy het die man nie seergemaak nie. 36Al die mense was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Die woorde wat hierdie man sê, kom van God. Hy sê vir die onrein geeste om uit te gaan, en dan gaan hulle uit.”
37Die mense het oral gepraat oor wat Jesus gedoen het.
Jesus maak Petrus se skoonma en ander siek mense gesond
(Ook Matt 8:14-17; Mark 1:29-34)
38Jesus het weggegaan van die sinagoge en Hy het na Simon se huis gegaan. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het koors gehad. Die mense het vir Jesus gevra om haar te help. 39Jesus het by haar gaan staan en Hy het kwaai gepraat met die koors. Die koors het weggegaan, en sy het dadelik opgestaan en vir hulle kos gegee. 40Toe die son ondergaan en die Sabbatdag verby was, het almal hulle siek mense na Jesus toe gebring. Jesus het sy hande op elkeen gesit en Hy het hulle gesond gemaak. 41Daar het ook duiwels uit baie mense uitgegaan en die duiwels het geskree: “U is die Seun van God.”
Die duiwels het geweet Hy is die Christus. Daarom het Jesus kwaai gepraat met hulle en gesê hulle moet stilbly.
Jesus gaan weg van Kapernaum
(Ook Matt 4:23; Mark 1:35-39)
42Die volgende oggend het Jesus na 'n stil plek gegaan om alleen te wees. Baie mense het Hom gesoek. Toe hulle Hom kry, wou hulle nie hê Hy moet weggaan van hulle nie. 43Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek moet ook vir die mense in ander stede die goeie boodskap bring dat God Koning is. Dit is hoekom God My gestuur het.”
44Jesus het toe aangehou om in die sinagoges in die Jode se land te preek.

Tans Gekies:

Lukas 4: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid