LUKAS 4:1-13

LUKAS 4:1-13 AFR83

Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie. ” Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.” Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ” Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, “en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ” Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid