KLAAGLIEDERE 3:18-26
KLAAGLIEDERE 3:18-26 Bybel vir almal (ABA)
En ek sê: Ek twyfel oor alles, ek hoop nie meer dat die Here my sal my help nie. Here, U moet onthou dat ek swaarkry, en dat ek nêrens 'n plek het waar ek kan woon nie. Wanneer ek daaraan dink, dan is dit vir my soos wilde-als en gif. Wanneer ek daaraan dink en dink, dan word ek moedeloos. Een ding weet ek, en dit is seker, en daarom sal ek aanhou hoop: Die Here doen altyd wat Hy belowe het, Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry. Here, U doen dit elke nuwe oggend, U bly altyd dieselfde. Ek sê: Die Here is alles wat ek het, daarom sal ek aanhou hoop. Die Here is goed vir mense wat glo dat Hy hulle sal help, vir mense wat naby Hom wil wees. Dit is goed om stil te bly en te glo dat die Here jou sal red.
KLAAGLIEDERE 3:18-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE. Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wildeals en die gif. As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
KLAAGLIEDERE 3:18-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here
KLAAGLIEDERE 3:18-26 Die Boodskap (DB)
Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red.
KLAAGLIEDERE 3:18-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek roep uit: “Ek beteken niks. Ek verwag niks meer van die HERE nie.” Wanneer ek aan my pyn en my hartseer dink, word ek bitter. Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie. Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop: Deur die HERE se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie. Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die HERE. Daarom vertrou ek op Hom.” Die HERE is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die HERE ons red.