Klaagliedere 3

3
Ek weet wat dit is om seer te kry
1Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is. 2Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe. 3Hy het nie opgehou om my te slaan nie. 4Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak. 5Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk. 6Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is. 7Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie. 8Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard. 9Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop.
10Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag. 11Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. 12Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet. 13Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het.
14My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my. 15Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my. 16Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek. 17Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees. 18Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie.
Nogtans bly ek hoop
19Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. 20My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink.
21Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: 22die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. 23’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. 24Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” 25Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. 26Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red. 27Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag. 28Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag. 29Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly. 30Hy moet maar sy trots sluk wanneer hulle hom beledig. Hy moet maar die ander wang ook na hulle toe draai.
31Die Here sluit ’n mens mos nie vir altyd uit nie. 32Hy maak ’n mens wel seer. Omdat sy liefde so groot is, kry Hy ons ook weer jammer. 33Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie.
34Die Here sien dit raak as gevangenes mishandel word. 35Hy sien wanneer mense verontreg word, teen die wil van die Allerhoogste. 36Hy kyk hoe mense in die hof onbillik behandel word. 37Kan enigiemand iets laat gebeur as die Here nie daarmee instem nie? 38Kom die slegte en die goeie dinge nie maar alles van God daar bo nie?
39Waaroor sal ’n mens kla wanneer hy lewe al het hy verkeerd gedoen? 40Kom ons gaan kyk hoe ons pad geloop het en dink ’n bietjie na oor wat ons gedoen het. Dan kan ons omdraai na die Here toe. 41Laat ons ons hart en ons hande na die Here in die hemel uitsteek. Laat ons met alles wat ons het tot Hom bid: 42“Here, U kan ons nie vergewe nie, want ons was hardkoppig en opstandig teenoor U.
43“U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons sonder genade dood te maak. 44U het agter die wolke ingegaan sodat nie een van ons gebede by U kon uitkom nie. 45U het ons die ashoop van die wêreld gemaak waarop al die gemors gegooi word. 46Al ons vyande beledig ons en sê van ons net wat hulle wil. 47Ons is bang en vasgekeer. Ons is verwoes en eenkant gegooi.”
48Ek huil lang trane omdat my volk in duie gestort het. 49Ek sal aanhou huil, ek sal nie ophou nie 50totdat die Here afkyk uit die hemel en my raaksien. 51Ek is baie hartseer as ek sien wat met die dogters in Jerusalem gebeur het.
52Mense wat sonder enige rede my vyande geword het, jaag my asof hulle ’n voël probeer vang. 53Hulle het my in ’n waterput gegooi om my te laat verdrink. Hulle het dit met klippe toegepak. 54Die water het oor my kop gegaan en ek het gedink: Nou is dit verby met my. 55Daar onder in die put het ek na U begin roep, Here.
56En U het gehoor toe ek roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” 57Die dag toe ek na U geroep het, het U vir my kom sê: “Hou nou op om bang te wees.” 58U het soos ’n prokureur in die hof vir my saak geveg en my lewe gered. 59Gee tog uitspraak in my guns, want U sien hoe hulle die wet verdraai om onreg aan my te doen. 60U sien tog al die plannetjies wat hulle maak om my terug te kry. 61U hoor watter planne hulle alles maak om my te beledig. 62Hulle wat teen my gekant is, sit heeldag en sleg praat oor my. 63Waar hulle ook al kom, sing hulle liedjies waarin hulle met my die spot dryf.
64Betaal hulle terug, Here, vir elke ding wat hulle aan my gedoen het. 65Laat hulle al slegter word en straf hulle dan daarvoor. 66Sit hulle agterna met u woede en roei hulle heeltemal uit op die aarde.

Tans Gekies:

Klaagliedere 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid