KLAAGLIEDERE 3

3
Ek hoop op God
1Ek is die man wat ellende belewe het.
Die Here het my
met sy toorn geslaan.
2Hy het my die donker in gejaag,
my laat loop op 'n pad sonder lig.
3Vir my stoot Hy gedurig weg,
dag na dag.
4Hy het my hele liggaam laat wegteer,
my bene gebreek.
5Hy het my toegebou
met 'n muur van gif en ontbering rondom my.
6Hy maak die donker my tuiste,
ek is soos dié wat lankal dood is.
7Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie,
Hy het vir my swaar bronskettings aangesit.
8Al roep ek en al smeek ek om hulp,
Hy weier om my gebed te verhoor.
9Hy het my pad met klip toegebou,
vir my geen uitkomplek gelaat nie.
10Hy is soos 'n beer wat my inwag,
soos 'n leeu wat my voorlê,
11Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur,
my vermink laat lê.
12Hy het sy boog gespan
en my 'n teiken vir sy pyle gemaak.
13Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet.
14Ek word uitgelag deur my hele volk,
hulle sing heeldag spotliedjies oor my.
15Hy het my bitter dinge laat sluk,
die lewe vir my galbitter gemaak.
16Hy het my gruisklip laat kou,
my in die grond getrap.
17Hy het alle rus van my af weggeneem;
ek het al vergeet van voorspoed.
18Ek het gedink dit is klaar met my
en met my hoop op die Here.
19Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my;
20as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir 'n mens
om sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig
– miskien is daar hoop –
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.
31Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;
32as Hy beproewing oor 'n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
33dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
34Dat al die gevangenes in die land
mishandel word,
35dat iemand se reg vertrap word
voor die Allerhoogste,
36dat 'n mens in 'n regsaak veronreg word –
die Here sien dit raak!
37Wie kan iets beplan, en dit gebeur,
as die Here nie die bevel gee nie?
38Is dit nie op bevel van die Allerhoogste
dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie?
39Wat kla 'n mens oor sy lewe?
Hy moet liewer sy sonde oorwin.
40Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek
en ons tot die Here bekeer,
41laat ons met ons hele hart
ons hande na God in die hemel uitsteek en bely:
42“Ons het sonde gedoen en was opstandig;
U het nie vergewe nie.”
43U toorn het ontvlam en U het ons agtervolg,
U het 'n slagting aangerig en nie genade betoon nie.
44U het U met 'n wolk omhul
sodat geen gebed na U kon deurkom nie,
45U het ons die uitvaagsel gemaak,
die skuim onder die volke.
46Al ons vyande rek hulle mond oor ons;
47angs en benoudheid het oor ons gekom,
verlatenheid en verwoesting.
48Die trane loop in strome uit my oë
oor die vernietiging van my volk.
49My trane sal aanhou vloei,
dit sal nie ophou nie,
50totdat die Here uit die hemel afkyk
en dit raaksien.
51Wat my oë sien, maak my hartseer
oor al die dogters van my stad.
52Mense het op my jag gemaak soos op 'n voël,
hulle is sonder rede vyandig teenoor my,
53hulle het my in 'n put gegooi
en klippe op my afgerol om my dood te maak;
54die water het tot by my kop gestyg,
ek het gedink dit is klaar met my.
55Ek het na U geroep, Here,
uit die dieptes uit.
56U het gehoor hoe ek smeek:
“Moet tog nie afsydig staan nie,
gee uitkoms en red my!”
57U het na my toe gekom toe ek geroep het,
U het gesê: “Moenie bang wees nie!”
58U verdedig my saak, Here,
U red my lewe.
59U sien die onreg teen my, Here,
lewer tog uitspraak in my guns,
60U sien hoe hulle my haat,
hoe hulle teen my saamspan.
61U hoor self hoe hulle my beledig, Here,
hoe hulle teen my saamspan,
62hoe hulle heeldag oor my praat en spot.
63Of hulle sit en of hulle staan,
hoor hoe sing hulle spotliedjies oor my.
64Straf hulle, Here,
volgens wat hulle gedoen het,
65laat benoudheid hulle oorval,
tref hulle met u vloek,
66agtervolg hulle in u toorn
en verdelg hulle, weg onder u hemel uit.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid