JOSUA 5:13-15
JOSUA 5:13-15 Bybel vir almal (ABA)
Toe Josua by Jerigo was, het hy 'n man voor hom sien staan. Die man het sy swaard in sy hand gehad. Josua het na die man toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Is jy een van ons of is jy een van ons vyande?” Die man het vir hom gesê: “Nee, ek is die hoof van die leër van die Here, ek het nou gekom.” Josua het gebuig en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en gesê: “Wat wil Meneer vir my sê? Ek sal doen wat jy sê.” Die hoof van die leër van die Here het vir Josua gesê: “Jy moet jou sandale uittrek, want jy staan op 'n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.
JOSUA 5:13-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande? En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.
JOSUA 5:13-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar 'n man voor hom met 'n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?” “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.
JOSUA 5:13-15 Die Boodskap (DB)
Op pad Jerigo toe het Josua skielik ’n man voor hom sien staan met sy swaard in sy hand. Josua stap toe na hom toe en vra: “Is jy ’n vriend of ’n vyand?” “Nie een van die twee nie,” antwoord hy. “Ek is die bevelvoerder van die Here se leër.” Josua het uit eerbied diep voor die man gebuig en gesê: “Ek is tot u diens. Wat wil u vir my sê?” Die bevelvoerder van die Here se leër sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene, want jy staan op ’n plek wat aan die Here toegewy is.” En Josua het dit gedoen.
JOSUA 5:13-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?” “Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?” Die leëraanvoerder van die HERE se mag sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene. Jy staan op ’n heilige plek.” Josua het so gemaak.