Josua 5

5
Die konings in die land word bang vir die Israeliete
1“Die konings van die Amoriete wes van die Jordaan-rivier en die konings van die Kanaäniete by die see het gehoor dat die Here die water van die Jordaan-rivier laat ophou vloei het sodat die Israeliete oor die rivier kon gaan. Die konings het baie bang geword, hulle was bang om teen die Israeliete te veg.”
Josua besny die mans en die seuns
2Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moet klipmesse maak en jy moet die Israeliete besny.”
3Josua het klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny by Voorhuide-heuwel. 4Hoekom moes Josua dit doen? Want al die mans wat uit Egipte gekom het, almal wat kon oorlog maak, het in die woestyn gesterf nadat hulle uit die land Egipte gekom het. 5Almal wat uit Egipte gekom het, was besny, maar almal wat in die woestyn gebore is, nadat hulle uit Egipte gekom het, is nie besny nie. 6Die Israeliete moes 40 jaar lank deur die woestyn loop totdat al die mans gesterf het wat uit Egipte gekom het, almal wat kon oorlog maak. Want hulle was nie gehoorsaam aan die Here nie, en die Here het gesê hulle sal nie die land sien nie. Hy het vir hulle voorvaders belowe dat Hy die land vir ons sal gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. 7Die Here het seuns gegee in die plek van hulle pa's, en Josua het húlle besny. Hulle is nie op die pad van Egipte af hiernatoe besny nie. 8Toe almal klaar besny is, het hulle daar in die kamp gebly totdat hulle gesond was. 9Die Here het vir Josua gesê: “Julle was slawe in Egipte, maar Ek het vandag die skande weggeneem van julle.”
Daarom het die Here daardie plek Gilgal genoem, en dit is vandag nog die plek se naam.
Die Israeliete vier die Paasfees
10Die Israeliete het die Paasfees gevier terwyl hulle in die kamp by Gilgal was, in die Jordaan-vallei naby Jerigo. Dit was op die aand van die veertiende dag van die maand. 11Die dag ná die Paasfees het hulle die eerste maal kos geëet van daardie land. Dit was ongesuurde brood en gebraaide koring. 12Daar het nie meer manna uit die hemel geval nie. Dit het opgehou val van die dag toe hulle kos van die land Kanaän geëet het. Die Israeliete het nie weer manna gekry nie. Hulle het daardie jaar kos geëet wat in daardie land gegroei het.
Josua sien die hoof van die leër van die Here
13Toe Josua by Jerigo was, het hy 'n man voor hom sien staan. Die man het sy swaard in sy hand gehad. Josua het na die man toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Is jy een van ons of is jy een van ons vyande?”
14Die man het vir hom gesê: “Nee, ek is die hoof van die leër van die Here, ek het nou gekom.”
Josua het gebuig en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en gesê: “Wat wil Meneer vir my sê? Ek sal doen wat jy sê.”
15Die hoof van die leër van die Here het vir Josua gesê: “Jy moet jou sandale uittrek, want jy staan op 'n gewyde plek.”
Josua het dit gedoen.

Tans Gekies:

Josua 5: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid