JOSUA 5

5
1Al die konings van die Amoriete wat wes van die Jordaan bly en al die konings van die Kanaäniete wat by die Middellandse See bly, het gehoor hoe die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat wegdroog het sodat hulle daar deur kon gaan. Hulle harte het gekrimp. Hulle het nie kans gesien om teen die Israeliete te veg nie.
Besnydenis by Gibeat-Haaralot
2Op daardie stadium het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou messe van klip. Besny die Israeliete weer ’n keer.”
3Josua het toe vir hom klipmesse gemaak. Hy het al die Israeliete besny by Gibeat-Haaralot#5:3 Dit beteken Die Heuwel van Besnydenis.. 4Josua moes almal besny omdat al die mans van die volk wat uit Egipte getrek het en wat oorlog kon gaan maak, langs die pad in die woestyn dood is. 5Almal wat destyds uit Egipte getrek het, was wel besny. Almal van die volk wat intussen langs die pad in die woestyn gebore is, was egter nie besny nie. 6Die Israeliete het 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat almal wat uit Egipte weg is wat kon oorlog maak, uitgesterf het. Hulle wou nie na die Here luister nie. Hy het daarom gesweer dat hulle nie die land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. Dit is ’n baie vrugbare land#5:6 Of ’n land wat vloei met melk en heuning.. 7Josua het nou hulle kinders besny wat in hulle plek gekom het. Hulle was nog nie besny nie. Hulle is ook nie langs die pad besny nie. 8Nadat die hele nasie besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle weer gesond was.
9Die Here het vir Josua gesê: “Ek het vandag julle vernedering van Egipte van julle af weggerol.” Josua het daardie plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog sy naam.
10Toe hulle die Paasfees gevier het, was die Israeliete nog steeds by Gilgal op die vlakte by Jerigo. Hulle het dit op die veertiende dag van die maand teen die aand gevier.
11Die volgende oggend het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring geëet wat in Kanaän geoes is. 12Op daardie dag dat hulle van die opbrengs van die land Kanaän begin eet het, het die manna opgehou. Die Israeliete sou nie meer manna eet nie. Van toe af het hulle die graan en vrugte begin eet wat in die land Kanaän geoes is.
Die aanvoerder van die Here se leër
13Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?”
14“Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?” 15Die leëraanvoerder van die Here se mag sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene. Jy staan op ’n heilige plek.” Josua het so gemaak.

Tans Gekies:

JOSUA 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid