RIGTERS 8:4-23

RIGTERS 8:4-23 Bybel vir almal (ABA)

Gideon het by die Jordaan-rivier aangekom, en hy en die 300 manne het deur die rivier gegaan. Hulle was baie moeg, maar hulle wou die Midianiete nog volg en jaag. Gideon vra toe vir die mense van die stad Sukkot: “Gee asseblief brood vir die manne wat by my is. Hulle is baie moeg, en ek is nog besig om vir Sebag en Salmunna, die konings van die Midianiete, te volg en te jaag.” Maar die leiers in die stad Sukkot het vir Gideon gesê: “Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?” Gideon het geantwoord: “Die Here sal my laat wen teen Sebag en Salmunna, en dan sal ek terugkom. Ek sal julle doodmaak en julle vleis stukkend skeur met woestyndorings.” Gideon het van Sukkot na die stad Pniël gegaan en hy het vir hulle ook brood gevra, maar die mense van Pniël het hom soos die mense van Sukkot geantwoord. Hy het vir die mense van Pniël gesê: “Ek sal terugkom en nog lewe, en dan sal ek hierdie toring afbreek.” Sebag en Salmunna was by die stad Karkor, en daar was omtrent 15 000 manne by hulle. Net hierdie manne het oorgebly van al die Oosmense. Daar het toe al 120 000 van hulle manne in die oorlog gesterf. Gideon het met die Nomade-pad gegaan oos van die stede Nobag en Jogboha, en hy het die kamp van Sebag en Salmunna aangeval toe hulle dit nie verwag het nie. Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle gejaag en gevang. Al die ander mense in hulle kamp het so geskrik dat hulle niks kon doen nie. Gideon het van die oorlog teruggekom oor die Geres-pas. Hy het 'n seun van die Sukkot-mense gevang en hy het vir die seun gevra wie die amptenare en leiers van die stad is. Die seun het vir Gideon die name opgeskryf van 77 amptenare en leiers van die stad. Toe het Gideon by die Sukkot-mense gekom en hy het vir hulle gesê: “Julle het my gespot en gesê: ‘Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?’ Hier is Sebag en Salmunna nou.” Gideon het woestyndorings gevat en hy het die leiers van Sukkot daarmee geslaan. Hy het ook die toring van Pniël omgegooi en hy het die mans van die stad doodgemaak. Daarna het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Hoe het die mans gelyk wat julle in Tabor doodgemaak het?” Sebag en Salmunna sê toe: “Hulle het gelyk soos jy. Hulle het gelyk of hulle 'n koning se seuns is.” Gideon het gesê: “Hulle was my eie broers. So seker soos die Here lewe, as julle hulle nie doodgemaak het nie, dan sou ek julle nie doodgemaak het nie.” Hy sê toe vir sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood.” Maar die jongman het nie sy swaard uitgehaal nie. Hy was bang, want hy was nog jonk. Sebag en Salmunna het gesê: “Gideon, jy self moet ons doodmaak, want jy is 'n man en jy is sterk.” Gideon het toe vir Sebag en Salmunna doodgemaak, en hy het die goue kettings om hulle kamele se nekke vir homself gevat. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet nou oor ons regeer, jy en jou nageslag ná jou, want jy het ons gered van die Midianiete.” Maar Gideon het vir hulle gesê: “Ek sal nie oor julle regeer nie, en my seun sal ook nie oor julle regeer nie. Die Here sal oor julle regeer.

RIGTERS 8:4-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Gídeon het gekom by die Jordaan, en hy en die driehonderd man wat by hom was, het oorgetrek, moeg en besig om te agtervolg. En hy sê aan die manne van Sukkot: Gee tog broodjies vir die manskappe wat op my voetspore volg, want hulle is moeg, en ek is besig om Seba en Sálmuna, die konings van die Midianiete, agterna te jaag. Maar die vorste van Sukkot vra: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al in u hand, dat ons aan u leër brood moet gee? Toe sê Gídeon: Daarom, as die HERE Seba en Sálmuna in my hand gee, sal ek julle vlees met woestyndorings en distels dors. En daarvandaan het hy opgetrek na Pnuel en met hulle net so gespreek; maar die manne van Pnuel het hom geantwoord net soos die manne van Sukkot geantwoord het. Daarop spreek hy ook met die mense van Pnuel en sê: As ek met vrede terugkom, sal ek hierdie toring omgooi. Seba en Sálmuna was toe in Karkor, en hul leër by hulle, omtrent vyftienduisend, al wat oor was uit die hele leër van die kinders van die Ooste; maar die gesneuweldes was honderd-en-twintigduisend man wat die swaard kon uittrek. En Gídeon het opgetrek met die pad van die tentbewoners, ten ooste van Nobag en Jógbeha, en hy het die leër verslaan terwyl die leër gerus was. En Seba en Sálmuna het gevlug, maar hy het hulle agternagejaag en die twee konings van Mídian, Seba en Sálmuna, gevang nadat hy die hele leër uiteengejaag het. En toe Gídeon, die seun van Joas, terugkom uit die geveg, van die nek Heres af, vang hy 'n seun van die mense van Sukkot en vra hom uit; en dié het vir hom die vorste van Sukkot en sy oudstes opgeskrywe, sewen-en-sewentig man. En toe hy by die mense van Sukkot kom, sê hy: Hier is Seba en Sálmuna oor wie julle my gesmaad het deur te sê: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al in u hand, dat ons aan u vermoeide manskappe brood moet gee? Daarop neem hy die oudstes van die stad saam met die woestyndorings en die distels, en hy het die manne van Sukkot daarmee 'n les geleer. En die toring van Pnuel het hy omgegooi en die manne van die stad gedood. En hy het Seba en Sálmuna gevra: Wat vir manne was dit wat julle by Tabor gedood het? En hulle antwoord: Soos u, so was hulle: elkeen van gestalte koninklike seuns. Daarop sê hy: Dit was my broers, seuns van my moeder. So waar as die HERE leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie. En hy sê aan Jeter, sy eersgeborene: Staan op, maak hulle dood! Maar die seun het sy swaard nie uitgetrek nie, omdat hy bang was; want hy was nog 'n seun. Toe sê Seba en Sálmuna: Staan u self op en val op ons aan, want soos die man is, is sy krag. Gídeon het toe opgestaan en Seba en Sálmuna gedood, en die maantjies wat aan die nekke van hulle kamele was, het hy geneem. Daarop sê die manne van Israel vir Gídeon: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete. Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers.

RIGTERS 8:4-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Gideon by die Jordaan gekom en dit oorgesteek met die drie honderd man by hom. Hulle was moeg, maar hulle het aangehou om die vyand te agtervolg. Toe sê Gideon vir die mense van Sukkot: “Gee tog brood vir die manne wat by my is. Hulle is moeg en ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.” Maar die leiers van Sukkot het vir hom gevra: “Het jy al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou en jou leër moet brood gee?” Gideon het vir hulle gesê: “Wanneer die Here vir Sebag en Salmunna in my mag oorgegee het, sal ek julle kom stukkend skeur met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn.” Van daar af is hy verder na Pniël toe en hy het ook vir hulle kos gevra, maar die mense van Pniël het hom dieselfde antwoord gegee as dié van Sukkot. Toe sê hy vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, sal ek die toring in julle stad platslaan.” Sebag en Salmunna was toe in Karkor. By hulle was 'n leër van ongeveer vyftien duisend man. Dit was al wat oorgebly het van die leër van die mense uit die ooste; honderd en twintig duisend van hulle beste soldate het gesneuwel. Gideon het toe die Nomadepad ooste toe gevat, na Nobag en Jogboha toe. Die leër van die Midianiete was houtgerus en Gideon het hulle aangeval. Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle agternagesit en die twee Midianitiese konings gevang. Hy het die hele leër met skrik vervul. Gideon seun van Joas is toe van die slagveld af terug oor Gerespas. Hy het 'n jong man uit Sukkot gevang en hom ondervra. Die jong man het toe vir hom die name van die sewe en sewentig amptenare en leiers van Sukkot opgeskryf. Gideon is toe na die mense van Sukkot toe en hy het vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my gespot het toe julle gesê het: Is Sebag en Salmunna al in jou mag dat ons vir jou moeë manne kos moet gee?” Toe het hy die leiers van die stad gevat en hulle 'n les geleer met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn. Hy het ook die toring van Pniël platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak. Toe het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Watter soort mense is deur julle vermoor op Tabor?” en hulle antwoord: “Hulle was almal soos u, elkeen het soos 'n koningskind gelyk.” Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.” Toe beveel Gideon sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood!” Maar die seun het nie 'n vinger verroer nie, want hy was 'n blote kind en hy was bang. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Kom jy, bring jy ons om die lewe. 'n Man se krag lê in homself.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet oor ons regeer: jy, jou seun en sy nageslag. Jy het ons gered uit die mag van Midian.” Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.”

RIGTERS 8:4-23 Die Boodskap (DB)

Teen hierdie tyd het Gideon met sy 300 soldate by die Jordaanrivier aangekom. Hoewel hulle baie moeg was, het hulle steeds die vyandelike soldate agtervolg. By Sukkot aangekom, het Gideon vir die mense gevra: “Gee asseblief vir my manskappe kos. Hulle is moeg, want ons is agter die Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, aan.” Die leiers van Sukkot sê toe vir hom: “Hoekom moet ons vir jou en jou manskappe kos gee? Julle het nog nie vir Sebag en Salmunna gevang nie.” Daarop het Gideon geantwoord: “Nou maar goed, maar nadat die Here Sebag en Salmunna aan my uitgelewer het, sal ek terugkom en julle uitmekaar kom skeur met doringtakke en haakdorings wat ek uit die woestyn gaan saambring.” Van daar af is hy verder na Pniël toe, waar hy dieselfde versoek vir kos aan die inwoners gerig het. Weereens het hy dieselfde antwoord as in Sukkot gekry. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.” Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood. Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het. Sebag en Salmunna het probeer vlug, maar Gideon het hulle agternagesit en hulle gevang. Dit het die hele leër paniekbevange gemaak. Op pad terug van die slagveld af het Gideon deur die pas by Geres gegaan. Daar het hy ’n jong man van Sukkot gevang. Tydens ondervraging het hy hom gedwing om die name van die 77 leiers en hoofde van Sukkot vir hom neer te skryf. Gideon is toe terug na die leiers van Sukkot toe. Daar aangekom, sê hy vir hulle: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my die vorige keer gespot het met die woorde: Het jy dalk al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou moeë soldate kos moet gee?” Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle ’n les geleer deur hulle goed toe te takel met doringtakke en haakdorings, soos hy belowe het. Hy het ook die wagtoring van Pniël platgeslaan en al die mans van die stad doodgemaak. Toe vra Gideon vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mense gelyk wat julle in Tabor vermoor het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk, dit het gelyk of hulle van koninklike afkoms was.” Toe sê Gideon: “Hulle was my eie broers. So seker as wat die Here leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle ook laat leef het.” Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat. Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.” Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle!

RIGTERS 8:4-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gideon het die Jordaan oorgesteek met sy 300 manskappe. Alhoewel hulle uitgeput was, het hulle volgehou met die agtervolging. Toe hulle by Sukkot kom, het hy die inwoners gevra: “Gee tog asseblief vir my soldate kos. Hulle is uitgeput. Ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.” Die leiers van Sukkot het vir hom gesê: “Vang eers vir Sebag en Salmunna, dan sal ons vir jou en jou soldate kos gee.” Gideon het toe vir hulle gesê: “Nadat die HERE Sebag en Salmunna aan my oorgegee het, gaan ek julle met haakdorings en steekdorings uit die woestyn kom pynig.” Hy is van daar af verder na Pniël toe. Hy het ook by hulle vir kos gevra. Hy het daar dieselfde antwoord as in Sukkot gekry. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, gaan ek hierdie toring van julle platstoot.” Sebag en Salmunna was op daardie stadium in Karkor met hulle leër van ongeveer 15 000 man. Dit was al die soldate wat oorgebly het van die magte van die mense uit die ooste. Daar is al 120 000 van hulle manskappe dood. Gideon het toe met die karavaanroete oos van Nobag en Jogboha verbygegaan en die leër van die Midianiete onverhoeds aangeval. Sebag en Salmunna het gevlug. Gideon is agter hulle aan en het die twee Midianitiese konings gevang. Hulle leër het paniekbevange geword. Gideon, die seun van Joas, het toe met die Gerespas van die geveg af teruggekom. Hy het ’n seun uit Sukkot gevang. Hy het hom die name van die 77 leiers van Sukkot laat neerskryf. Gideon het toe by die mense van Sukkot gekom en vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna. Julle het mos vol leedvermaak vir my gesê: ‘Vang eers vir Sebag en Salmunna voor ons vir jou moeë manne kos gee.’” Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle met die haakdorings en steekdorings uit die woestyn ’n les of twee geleer. Hy het ook die toring van Pniël afgebreek en die mans van die stad doodgemaak. Gideon vra toe vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mans gelyk vir wie julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk. Almal het gelyk of hulle koningskinders is.” “Hulle was my eie bloedbroers,” het Gideon vir hulle gesê. “So waar as die HERE leef, ek sou julle laat bly leef het as julle hulle nie vermoor het nie.” Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was. Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.” Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die HERE self is julle koning.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid