RIGTERS 8:4-23

RIGTERS 8:4-23 NLV

Gideon het die Jordaan oorgesteek met sy 300 manskappe. Alhoewel hulle uitgeput was, het hulle volgehou met die agtervolging. Toe hulle by Sukkot kom, het hy die inwoners gevra: “Gee tog asseblief vir my soldate kos. Hulle is uitgeput. Ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.” Die leiers van Sukkot het vir hom gesê: “Vang eers vir Sebag en Salmunna, dan sal ons vir jou en jou soldate kos gee.” Gideon het toe vir hulle gesê: “Nadat die HERE Sebag en Salmunna aan my oorgegee het, gaan ek julle met haakdorings en steekdorings uit die woestyn kom pynig.” Hy is van daar af verder na Pniël toe. Hy het ook by hulle vir kos gevra. Hy het daar dieselfde antwoord as in Sukkot gekry. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, gaan ek hierdie toring van julle platstoot.” Sebag en Salmunna was op daardie stadium in Karkor met hulle leër van ongeveer 15 000 man. Dit was al die soldate wat oorgebly het van die magte van die mense uit die ooste. Daar is al 120 000 van hulle manskappe dood. Gideon het toe met die karavaanroete oos van Nobag en Jogboha verbygegaan en die leër van die Midianiete onverhoeds aangeval. Sebag en Salmunna het gevlug. Gideon is agter hulle aan en het die twee Midianitiese konings gevang. Hulle leër het paniekbevange geword. Gideon, die seun van Joas, het toe met die Gerespas van die geveg af teruggekom. Hy het ’n seun uit Sukkot gevang. Hy het hom die name van die 77 leiers van Sukkot laat neerskryf. Gideon het toe by die mense van Sukkot gekom en vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna. Julle het mos vol leedvermaak vir my gesê: ‘Vang eers vir Sebag en Salmunna voor ons vir jou moeë manne kos gee.’” Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle met die haakdorings en steekdorings uit die woestyn ’n les of twee geleer. Hy het ook die toring van Pniël afgebreek en die mans van die stad doodgemaak. Gideon vra toe vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mans gelyk vir wie julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk. Almal het gelyk of hulle koningskinders is.” “Hulle was my eie bloedbroers,” het Gideon vir hulle gesê. “So waar as die HERE leef, ek sou julle laat bly leef het as julle hulle nie vermoor het nie.” Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was. Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.” Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die HERE self is julle koning.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid