Rigters 8:4-23

Rigters 8:4-23 DB

Teen hierdie tyd het Gideon met sy 300 soldate by die Jordaanrivier aangekom. Hoewel hulle baie moeg was, het hulle steeds die vyandelike soldate agtervolg. By Sukkot aangekom, het Gideon vir die mense gevra: “Gee asseblief vir my manskappe kos. Hulle is moeg, want ons is agter die Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, aan.” Die leiers van Sukkot sê toe vir hom: “Hoekom moet ons vir jou en jou manskappe kos gee? Julle het nog nie vir Sebag en Salmunna gevang nie.” Daarop het Gideon geantwoord: “Nou maar goed, maar nadat die Here Sebag en Salmunna aan my uitgelewer het, sal ek terugkom en julle uitmekaar kom skeur met doringtakke en haakdorings wat ek uit die woestyn gaan saambring.” Van daar af is hy verder na Pniël toe, waar hy dieselfde versoek vir kos aan die inwoners gerig het. Weereens het hy dieselfde antwoord as in Sukkot gekry. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.” Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood. Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het. Sebag en Salmunna het probeer vlug, maar Gideon het hulle agternagesit en hulle gevang. Dit het die hele leër paniekbevange gemaak. Op pad terug van die slagveld af het Gideon deur die pas by Geres gegaan. Daar het hy ’n jong man van Sukkot gevang. Tydens ondervraging het hy hom gedwing om die name van die 77 leiers en hoofde van Sukkot vir hom neer te skryf. Gideon is toe terug na die leiers van Sukkot toe. Daar aangekom, sê hy vir hulle: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my die vorige keer gespot het met die woorde: Het jy dalk al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou moeë soldate kos moet gee?” Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle ’n les geleer deur hulle goed toe te takel met doringtakke en haakdorings, soos hy belowe het. Hy het ook die wagtoring van Pniël platgeslaan en al die mans van die stad doodgemaak. Toe vra Gideon vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mense gelyk wat julle in Tabor vermoor het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk, dit het gelyk of hulle van koninklike afkoms was.” Toe sê Gideon: “Hulle was my eie broers. So seker as wat die Here leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle ook laat leef het.” Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat. Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.” Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid