GENESIS 37:12-36

GENESIS 37:12-36 Bybel vir almal (ABA)

Josef se broers het hulle pa se skape en bokke naby die stad Sigem gaan oppas. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers pas die skape en bokke op in Sigem. Jy moet na hulle toe gaan.” Josef het gesê: “Goed, Pa, ek sal gaan.” Toe sê Jakob vir Josef: “Gaan kyk of dit goed gaan met jou broers en of dit goed gaan met die skape en bokke. Gaan kyk en kom vertel alles vir my.” So het Jakob vir Josef uit die Hebron-vallei gestuur, en Josef het na Sigem gegaan. Josef het in die veld geloop, en 'n man het hom gesien. Die man vra toe vir hom: “Wat soek jy?” Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. As jy weet waar hulle die skape en bokke oppas, sê asseblief vir my.” Die man sê toe: “Hulle is nie meer hier nie. Hulle het weggegaan van hier. Ek het gehoor hulle sê hulle gaan na Dotan.” Josef het sy broers gevolg en hy het hulle in Dotan gekry. Hy was nog ver van hulle, toe het hulle hom gesien aankom. Voordat hy by hulle gekom het, het hulle 'n plan gemaak om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Daar kom die groot dromer aan. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan vir ons pa vertel dat 'n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien dat al sy drome niks beteken het nie.” Maar Ruben het dit gehoor en hy wou vir Josef red. Hy sê toe: “Nee, ons moenie hom doodmaak nie. Moenie bloed laat vloei nie. Gooi hom in hierdie put in die veld, maar moenie hom doodmaak nie.” Ruben het dit gesê sodat hy later vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon laat teruggaan. Toe Josef by sy broers kom, het hulle sy lang rok uitgetrek, die lang rok met moue. Hulle vat hom toe en gooi hom in die put. Die put was leeg, daar was nie water in nie. Hulle gaan sit toe om te eet, en toe hulle kyk, sien hulle 'n klomp Ismaeliete wat uit Gilead kom. Hulle was handelaars en daar was boomgom, balsem en hars op hulle kamele. Hulle wou dit na Egipte neem om te verkoop. Juda sê toe vir sy broers: “Ons sal niks kry as ons ons broer Josef doodmaak en daaroor stilbly nie. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie hom doodmaak nie. Onthou, hy is ons eie broer.” Juda se broers het toe na hom geluister. Toe die handelaars van Midian verbykom, het Josef se broers hom uit die put opgetrek en hulle het hom aan die Ismaeliete verkoop vir 20 stukke silwer. Die handelaars het vir Josef saamgeneem na Egipte. Toe Ruben terugkom by die put en sien dat Josef nie meer in die put is nie, was hy baie hartseer. Hy het sy klere geskeur. Hy het teruggegaan na sy broers toe en hy het vir hulle gesê: “Die kind is nie meer daar nie. Wat moet ek nou doen?” Die broers slag toe 'n bok en hulle vat Josef se lang rok en smeer dit vol bloed. Toe stuur hulle sy rok na hulle pa toe en hulle laat weet vir hom: “Ons het hierdie rok opgetel. Kyk of dit miskien jou seun Josef se rok is.” Jakob het daarna gekyk en gesê: “Dit is my seun se rok. 'n Wilde dier het hom doodgemaak en opgevreet. Die dier het my seun Josef verskeur!” Jakob was baie hartseer. Hy het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het 'n lang tyd oor sy seun gehuil en getreur. Al sy seuns en dogters het gekom om hom te troos, maar hy wou nie hê dat hulle hom moet troos nie. Hy het gesê: “Ek sal aanhou treur oor hom totdat ek sterf.” Jakob het baie oor Josef gehuil. Die Midianiete het vir Josef in Egipte aan Potifar verkoop. Potifar was 'n belangrike amptenaar van die farao. Hy was hoof van die wagte wat die farao moes oppas.

GENESIS 37:12-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas. Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek! Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom. Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy? En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind. En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word. Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie. Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring. En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie. Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom — hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom — op pad om dit na Egipte af te bring. Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister. En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring. Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere, en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen? Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die bloed, en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie. En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef! Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween. En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.

GENESIS 37:12-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.” Josef het geantwoord: “Goed, Pa!” Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.” Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?” Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?” Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.” Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry. Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.” Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur. Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai. Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.” Juda se broers het na hom geluister, en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat. Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?” Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop. Toe stuur hulle Josef se klere met 'n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.” Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. 'n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!” Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur. Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.” So het Josef se pa bly treur oor hom. Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

GENESIS 37:12-36 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.” “Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord. Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem. Terwyl Josef nog so in die veld stap, sien hy ’n vreemde man aankom. “Wat soek jy?” het die man gevra. “Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?” “Hulle was hier gewees,” het die vreemde man geantwoord, “maar toe is hulle weer vort. Ek het gehoor hulle is op pad Dotan toe.” Josef het toe sy broers se spoor gevat en hulle duskant Dotan ingehaal. Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom. Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.” Toe Ruben hiervan hoor, het hy Josef probeer red. “Moet hom tog nie doodmaak nie,” het hy vir sy broers gesê. “Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem. Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure. Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval. Daarna het die broers gaan eet. Hulle het net begin toe hulle ’n stofwolk in die verte sien. Dit was ’n groep Ismaeliete wat van Gilead na Egipte op pad was. Daar was troppe kamele, swaar gelaai met gom, balsem en hars wat hulle in Egipte wou verkoop. Juda het toe opgespring en vir sy broers gesê: “Dit gaan ons tog niks in die sak bring as ons Josef doodmaak en hom in die sand begrawe nie. Ek het ’n baie beter plan. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete, dan hoef ons hom nie dood te maak nie. Hy is darem nog ons broer, ons eie bloed.” Die ander het saamgestem. Intussen was die Ismaeliete met hulle kamele al baie naby en die broers het Josef vinnig uit die put opgetrek. Hulle het Josef toe vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop. Josef is saam met hulle Egipte toe. Ruben het van niks geweet nie, want hy was weg. Toe hy terugkom, is hy reguit na die put toe om Josef uit te haal, maar Josef was reeds weg. Ruben het hartseer geword en sy klere begin skeur. Hy het na sy broers toe gehardloop en uitgeroep: “Die seun is weg! Wat moet ek nou vir sy pa sê?” Hulle het toe ’n boklam geslag en Josef se klere gevat en dit daarin gedoop. Toe het die broers die kleed met die baie kleure en lang moue na hulle pa toe geneem en vir hom gesê: “Pa, ons het dit gekry. Kyk mooi of dit nie dalk Josef se klere is nie.” Hy het dit onmiddellik herken en gesê: “Dit is werklik Josef se klere dié. ’n Wilde dier moes hom aangeval en verskeur het. Josef is uitmekaargeskeur!” Jakob het toe opgestaan, sy klere begin skeur en ’n sak om hom gedraai. Hy was baie hartseer oor Josef se dood en het lank oor hom gerou. Al sy seuns en dogters het hom probeer troos, maar Jakob kon maar net nie oor Josef se dood kom nie. Hy het vir hulle gesê: “Ek sal huilend sterf en ontroosbaar begrawe word om daar saam met my seun te wees.” Dag vir dag het Jakob oor Josef bly rou. Intussen het Josef in Egipte aangekom, waar die Midianiete hom aan Potifar verkoop het. Potifar was die hoof van die Egiptiese koning se lyfwagte.

GENESIS 37:12-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kort hierna gaan Josef se broers om die vee in die omgewing van Sigem te laat wei. Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.” “Goed, Pa,” sê Josef. “Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.” Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom. Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy. “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?” “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry. Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak. “Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep. “Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!” Maar Ruben het vir hom in die bres getree. “Ons moenie hom doodmaak nie,” sê hy. “Hoekom sal ons bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf sonder dat ons hom self doodgemaak het.” Ruben het stilletjies beplan om Josef te help ontsnap en hom dan na sy pa terug te stuur. Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog. Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem. Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou? Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem. Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe. Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?” Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed. Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?” Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!” Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur. Sy gesin het hom probeer troos, maar dit het niks gehelp nie. “Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!” het hy gesê. Hy was diep bedroef. Intussen het die handelaars Josef in Egipte aan Potifar verkoop, ’n beampte van die farao, die koning van Egipte. Potifar was die hoof van die farao se lyfwag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid