GENESIS 37:12-36

GENESIS 37:12-36 NLV

Kort hierna gaan Josef se broers om die vee in die omgewing van Sigem te laat wei. Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.” “Goed, Pa,” sê Josef. “Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.” Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom. Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy. “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?” “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry. Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak. “Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep. “Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!” Maar Ruben het vir hom in die bres getree. “Ons moenie hom doodmaak nie,” sê hy. “Hoekom sal ons bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf sonder dat ons hom self doodgemaak het.” Ruben het stilletjies beplan om Josef te help ontsnap en hom dan na sy pa terug te stuur. Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog. Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem. Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou? Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem. Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe. Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?” Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed. Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?” Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!” Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur. Sy gesin het hom probeer troos, maar dit het niks gehelp nie. “Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!” het hy gesê. Hy was diep bedroef. Intussen het die handelaars Josef in Egipte aan Potifar verkoop, ’n beampte van die farao, die koning van Egipte. Potifar was die hoof van die farao se lyfwag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid