Genesis 37:12-36

Genesis 37:12-36 ABA

Josef se broers het hulle pa se skape en bokke naby die stad Sigem gaan oppas. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers pas die skape en bokke op in Sigem. Jy moet na hulle toe gaan.” Josef het gesê: “Goed, Pa, ek sal gaan.” Toe sê Jakob vir Josef: “Gaan kyk of dit goed gaan met jou broers en of dit goed gaan met die skape en bokke. Gaan kyk en kom vertel alles vir my.” So het Jakob vir Josef uit die Hebron-vallei gestuur, en Josef het na Sigem gegaan. Josef het in die veld geloop, en 'n man het hom gesien. Die man vra toe vir hom: “Wat soek jy?” Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. As jy weet waar hulle die skape en bokke oppas, sê asseblief vir my.” Die man sê toe: “Hulle is nie meer hier nie. Hulle het weggegaan van hier. Ek het gehoor hulle sê hulle gaan na Dotan.” Josef het sy broers gevolg en hy het hulle in Dotan gekry. Hy was nog ver van hulle, toe het hulle hom gesien aankom. Voordat hy by hulle gekom het, het hulle 'n plan gemaak om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Daar kom die groot dromer aan. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan vir ons pa vertel dat 'n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien dat al sy drome niks beteken het nie.” Maar Ruben het dit gehoor en hy wou vir Josef red. Hy sê toe: “Nee, ons moenie hom doodmaak nie. Moenie bloed laat vloei nie. Gooi hom in hierdie put in die veld, maar moenie hom doodmaak nie.” Ruben het dit gesê sodat hy later vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon laat teruggaan. Toe Josef by sy broers kom, het hulle sy lang rok uitgetrek, die lang rok met moue. Hulle vat hom toe en gooi hom in die put. Die put was leeg, daar was nie water in nie. Hulle gaan sit toe om te eet, en toe hulle kyk, sien hulle 'n klomp Ismaeliete wat uit Gilead kom. Hulle was handelaars en daar was boomgom, balsem en hars op hulle kamele. Hulle wou dit na Egipte neem om te verkoop. Juda sê toe vir sy broers: “Ons sal niks kry as ons ons broer Josef doodmaak en daaroor stilbly nie. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie hom doodmaak nie. Onthou, hy is ons eie broer.” Juda se broers het toe na hom geluister. Toe die handelaars van Midian verbykom, het Josef se broers hom uit die put opgetrek en hulle het hom aan die Ismaeliete verkoop vir 20 stukke silwer. Die handelaars het vir Josef saamgeneem na Egipte. Toe Ruben terugkom by die put en sien dat Josef nie meer in die put is nie, was hy baie hartseer. Hy het sy klere geskeur. Hy het teruggegaan na sy broers toe en hy het vir hulle gesê: “Die kind is nie meer daar nie. Wat moet ek nou doen?” Die broers slag toe 'n bok en hulle vat Josef se lang rok en smeer dit vol bloed. Toe stuur hulle sy rok na hulle pa toe en hulle laat weet vir hom: “Ons het hierdie rok opgetel. Kyk of dit miskien jou seun Josef se rok is.” Jakob het daarna gekyk en gesê: “Dit is my seun se rok. 'n Wilde dier het hom doodgemaak en opgevreet. Die dier het my seun Josef verskeur!” Jakob was baie hartseer. Hy het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het 'n lang tyd oor sy seun gehuil en getreur. Al sy seuns en dogters het gekom om hom te troos, maar hy wou nie hê dat hulle hom moet troos nie. Hy het gesê: “Ek sal aanhou treur oor hom totdat ek sterf.” Jakob het baie oor Josef gehuil. Die Midianiete het vir Josef in Egipte aan Potifar verkoop. Potifar was 'n belangrike amptenaar van die farao. Hy was hoof van die wagte wat die farao moes oppas.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid