EKSODUS 2:1-10

EKSODUS 2:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN 'n man uit die huis van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi geneem. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom 'n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. En sy suster het op 'n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om 'n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u 'n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.

EKSODUS 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In hierdie tyd het ’n man uit die stam van Levi met ’n vrou uit dieselfde stam getrou. Die vrou het verwag en ’n seun in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande lank weggesteek. Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie, het sy ’n mandjie van riet gevat en dit met klei en pik waterdig gemaak. Sy het die baba in die mandjie gesit en hom tussen die riete van die Nylrivier weggesteek. Die baba se sussie het hom van ’n afstand af dopgehou. Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê. Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?” “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep. “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg. Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”

EKSODUS 2:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man in Levi se familie. Hy het getrou met 'n vrou in dieselfde familie. Die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het gesien haar seuntjie is baie mooi en sy het hom drie maande lank weggesteek. Toe hy groter word, kon sy hom nie meer wegsteek nie. Sy het vir hom 'n kissie gemaak van biesies en sy het klei en teer aan die kissie gesmeer sodat daar nie water kon inkom nie. Sy het haar kind in die kissie gesit en sy het die kissie op die Nyl-rivier gaan sit, tussen die riete. Die kind se suster het daar naby gaan staan om te kyk wat met hom gebeur. Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.” Die kind se suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek vir jou een van die Hebreeuse vroue gaan roep wat 'n kind het wat aan haar drink? Dan kan sy hierdie kind laat drink.” Die farao se dogter sê toe vir haar: “Ja, gaan!” En die meisie het gegaan en sy het die kind se ma gaan roep. Die farao se dogter het vir die ma gesê: “Neem hierdie kind en maak hom groot. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het toe die kind geneem en sy het hom laat drink. Toe die kind groot was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gebring. Die farao se dogter het hom aangeneem, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem. Sy het gesê: “Ek het hom uit die water gehaal.”

EKSODUS 2:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Man uit die stam Levi was met 'n Levitiese meisie getroud. Die vrou het swanger geword en 'n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom 'n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur. 'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies. Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u 'n vrou gaan roep, 'n Hebreeuse vrou met 'n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?” Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!” Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep. Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

EKSODUS 2:1-10 Die Boodskap (DB)

’n Man uit Levi se nageslag het met ’n vrou uit dieselfde groep getrou. Sy het verwag en ’n seuntjie gekry. Toe sy sien hoe mooi die baba is, het sy hom drie maande lank vir die Egiptenaars weggesteek. Toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n gevlegte mandjie gemaak om in te lê. Sy het dit met pik waterdig gemaak en die seuntjie daarin neergesit. Toe het sy die mandjie tussen die riete aan die kant van die Nyl gaan sit. Sy sussie moes die mandjie oppas en op ’n afstand dophou om te kyk dat daar nie iets met hom gebeur nie. Een van die farao se dogters het in die Nyl gaan bad. Die meisies wat haar elke dag help, het op die wal van die rivier bly staan terwyl sy swem. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en een van die meisies gestuur om dit vir haar te gaan uithaal. Toe sy dit oopmaak, sien sy dat daar ’n babaseuntjie in is wat huil. Haar hart het sag geword en sy het vir haarself gesê: “Siestog, dis seker een van die Hebreërs se seuntjies.” Sy sussie kom toe nader en vra vir die farao se dogter: “Kan ek maar iemand by die Hebreërs vir u gaan haal wat die babatjie kan laat drink en hom vir u kan oppas?” Die farao se dogter antwoord haar: “Asseblief, ja. Gaan haal haar.” Die meisie het toe haar ma gaan haal. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Vat hierdie babatjie en laat hom aan jou drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy ma het hom toe gevat en vir hom gesorg. Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid