EXODUS 2:1-10

EXODUS 2:1-10 AFR53

EN 'n man uit die huis van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi geneem. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom 'n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. En sy suster het op 'n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om 'n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u 'n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid