Eksodus 2:1-10

Eksodus 2:1-10 ABA

Daar was 'n man in Levi se familie. Hy het getrou met 'n vrou in dieselfde familie. Die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het gesien haar seuntjie is baie mooi en sy het hom drie maande lank weggesteek. Toe hy groter word, kon sy hom nie meer wegsteek nie. Sy het vir hom 'n kissie gemaak van biesies en sy het klei en teer aan die kissie gesmeer sodat daar nie water kon inkom nie. Sy het haar kind in die kissie gesit en sy het die kissie op die Nyl-rivier gaan sit, tussen die riete. Die kind se suster het daar naby gaan staan om te kyk wat met hom gebeur. Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.” Die kind se suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek vir jou een van die Hebreeuse vroue gaan roep wat 'n kind het wat aan haar drink? Dan kan sy hierdie kind laat drink.” Die farao se dogter sê toe vir haar: “Ja, gaan!” En die meisie het gegaan en sy het die kind se ma gaan roep. Die farao se dogter het vir die ma gesê: “Neem hierdie kind en maak hom groot. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het toe die kind geneem en sy het hom laat drink. Toe die kind groot was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gebring. Die farao se dogter het hom aangeneem, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem. Sy het gesê: “Ek het hom uit die water gehaal.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid