HANDELINGE 9:1-18

HANDELINGE 9:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Terwyl hierdie dinge gebeur het, het Saulus aangehou om te probeer om die mense dood te maak wat in die Here glo. Hy het daarom na die hoëpriester toe gegaan, en vir hom gevra om briewe te skryf wat hy, Saulus, kon saamneem na die leiers van die sinagoges in die stad Damaskus. Die briewe moes sê dat as Saulus mense kry wat behoort aan “ Die Pad,” mans en vroue, dan mag hy hulle vang en na Jerusalem neem. Terwyl Saulus op die pad was naby Damaskus, het daar skielik 'n lig rondom hom geskyn uit die lug. Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?” Saulus vra toe: “Meneer, wie is jy?” Die Persoon het gesê: “Ek is Jesus, jy doen slegte dinge aan My. Maar jy moet opstaan en jy moet in die stad ingaan, dan sal iemand vir jou sê wat jy moet doen.” Die mans wat saam met Saulus geloop het, was so bang en verbaas dat hulle stil gaan staan het, want hulle het die stem gehoor van die Persoon wat gepraat het, maar hulle het niemand gesien nie. Toe Saulus opstaan van die grond, het hy sy oë oopgemaak, maar hy kon niks sien nie. Die mense wat saam met hom was, het toe sy hand geneem en hulle het hom in Damaskus ingebring. Saulus kon drie dae lank nie sien nie, en het hy niks geëet en ook niks gedrink nie. Daar was 'n gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!” Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.” Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat 'n man na hom toe kom en dat hierdie man sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.” Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.” Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My. Ek sal self vir hom wys hoe baie hy moet swaarkry omdat Hy vir mense van My vertel.” Ananias het toe gegaan en hy het in die huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Saulus, my vriend, jy het die Here Jesus gesien op die pad hiernatoe, en dit is Hý wat my gestuur het na jou toe sodat jy weer kan sien en sodat die Heilige Gees in jou kan wees.” Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop.

HANDELINGE 9:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. En daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in 'n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.

HANDELINGE 9:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring. Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here,” het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop

HANDELINGE 9:1-18 Die Boodskap (DB)

Saulus wou die kerk met alle geweld uitroei. Hy het volgelinge van die Here oral met die dood gedreig. Daarom het hy by die hoëpriester lasbriewe gekry en daarmee na die Joodse aanbiddingsplekke in Damaskus afgesit. Daar wou hy elke gelowige vang op wie hy sy hande kon lê. Sy plan was om elkeen wat in die Here geglo het terug te vat na Jerusalem om daar verhoor te word. Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord. Die ander mense wat saam met Saulus gereis het, was verstom oor wat gebeur het. Hulle kon net die stem hoor, maar hulle het niks gesien nie. Saulus het orent gekom. Toe kom hy agter dat hy niks kan sien nie. Sy reisgenote moes hom lei. Drie dae lank was hy blind. Hy het niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!” “Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.” Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.” Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe. Ek het hom uitgekies vir ’n baie besondere opdrag. Hy gaan nog met baie belangrike mense oor My praat, en ook met die Jode en met mense wat aan ander volke behoort. Daar lê ’n moeilike taak vir hom voor. Saulus gaan nog baie swaarkry omdat hy oor My moet praat. Ek sal dit een van die dae vir hom wys.” Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.” Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop.

HANDELINGE 9:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Intussen het Saulus met elke asemteug dreigemente uitgespreek. Hy wou die volgelinge van die Here doodmaak, en het daarom na die hoofpriester toe gegaan. Hy het briewe van hom aan die sinagoges in Damaskus gevra waarin hulle versoek word om hom te help om dié wat aan “Die Pad” behoort, mans én vroue, op te spoor, en hulle geboei na Jerusalem toe te bring. Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.” Die mans saam met hom was sprakeloos van verbasing, want hulle het iemand se stem gehoor, maar niemand gesien nie. Saulus het van die grond af opgestaan en alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle is Damaskus in terwyl sy reisgenote hom aan die hand lei. Hy was drie dae lank daar sonder om te sien, en hy het ook niks geëet of gedrink nie. Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!” “Ja, Here!” het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid. Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.” Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel. Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly.” Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het iets soos skille van Saulus se oë afgeval en hy kon weer sien. Hy het opgestaan en is gedoop.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid