HANDELINGE 9:1-18

HANDELINGE 9:1-18 AFR83

Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring. Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here,” het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid