HANDELINGE 9:1-18

HANDELINGE 9:1-18 AFR53

MAAR Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. En daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in 'n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid