HANDELINGE 13:4-12

HANDELINGE 13:4-12 Bybel vir almal (ABA)

Toe die Heilige Gees vir Barnabas en Saulus gestuur het om te gaan preek, het hulle na die hawestad Seleukië gegaan en van daar het hulle met 'n skip na die eiland Siprus geseil. Toe hulle in die stad Salamis kom, het hulle aangehou om vir die mense die boodskap van God te bring in die sinagoges van die Jode. Johannes was ook by Barnabas en Saulus om hulle te help. Hulle het deur die hele eiland gegaan tot by die stad Pafos. Daar het hulle 'n man ontmoet, sy naam was Barjesus. Hy was 'n Joodse towenaar en 'n vals profeet. Barjesus was daar by die goewerneur, Sergius Paulus. Sergius Paulus was 'n verstandige man. Die goewerneur het toe vir Barnabas en Saulus laat roep omdat hy baie graag die boodskap oor God wou hoor. In die Griekse taal was die towenaar se naam Elimas. Hy het vir Barnabas en Saulus probeer keer omdat hy nie wou hê dat die goewerneur in Jesus moet glo nie. Maar die Heilige Gees was in Saulus, Saulus se ander naam was Paulus. Hy het reguit na Elimas gekyk. Paulus het vir hom gesê: “Jy is 'n kind van die duiwel. Jy bedrieg mense en jy doen net verkeerde dinge. Jy is 'n vyand van alles wat reg is, jy moet ophou om die reguit paaie van die Here krom te maak. Die Here sal nou teen jou wees en jy sal blind wees en jy sal 'n tyd lank nie die son kan sien nie.” Elimas het toe dadelik gedink dat dit donker geword het, soos onder 'n wolk, en hy het aangehou soek na mense wat sy hand kan neem om hom te lei. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy in Jesus geglo, en hy was baie verbaas oor wat die mense oor die Here geleer het.

HANDELINGE 13:4-12 Die Boodskap (DB)

Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan. In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis. Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink. Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het. Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie. Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is. Jy is ’n kind van die duiwel. Met al jou skewe leringe probeer jy keer dat God se woord op die regte manier bekendgemaak word. Maar nou het jy jou teen God self vasgeloop. Hy gaan jou van hierdie oomblik af blind laat word. Jy sal ’n ruk lank niks kan sien nie.” Dadelik het alles voor Elimas donker geword. Hy het hulpeloos rondgestrompel en gevra dat iemand hom moet weglei. Omdat die goewerneur gesien het wat gebeur het, het hy in Jesus begin glo. Hy was baie opgewonde oor alles wat Paulus-hulle vir hom oor die Here gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid