Handelinge 13:4-12

Handelinge 13:4-12 DB

Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan. In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis. Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink. Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het. Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie. Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is. Jy is ’n kind van die duiwel. Met al jou skewe leringe probeer jy keer dat God se woord op die regte manier bekendgemaak word. Maar nou het jy jou teen God self vasgeloop. Hy gaan jou van hierdie oomblik af blind laat word. Jy sal ’n ruk lank niks kan sien nie.” Dadelik het alles voor Elimas donker geword. Hy het hulpeloos rondgestrompel en gevra dat iemand hom moet weglei. Omdat die goewerneur gesien het wat gebeur het, het hy in Jesus begin glo. Hy was baie opgewonde oor alles wat Paulus-hulle vir hom oor die Here gesê het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 13:4-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid