Handelinge 13

13
Saulus en Barnabas se nuwe taak
1Die gemeente in Antiogië het ’n klompie knap leiers gehad wat oor die gawe beskik het om God se wil bekend te maak. Barnabas, Simeon (hy is ook “swart Simeon” genoem), Lusius uit Sirene, Manaen, ’n stiefbroer van Herodes en ook Saulus het die gelowiges geleer hoe om tot God se eer te leef.
2Op ’n dag, terwyl hulle besig was om te vas en ernstig tot die Here te bid, het die Heilige Gees vir hulle kom sê: “Julle moet Barnabas en Saulus nou losmaak van hulle werk in die gemeente. Daar wag ’n nuwe taak op hulle.” 3Die gelowiges het toe klaar gevas en gebid en daarna het hulle hulle hande op Barnabas en Saulus gesit om hulle aan die Here op te dra. Daarop het die gelowiges van hulle afskeid geneem.
Op die pad met die goeie nuus
4Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan. 5In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis.
6Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink.
7Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het. 8Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie.
9Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is. 10Jy is ’n kind van die duiwel. Met al jou skewe leringe probeer jy keer dat God se woord op die regte manier bekendgemaak word. Maar nou het jy jou teen God self vasgeloop. 11Hy gaan jou van hierdie oomblik af blind laat word. Jy sal ’n ruk lank niks kan sien nie.”
Dadelik het alles voor Elimas donker geword. Hy het hulpeloos rondgestrompel en gevra dat iemand hom moet weglei.
12Omdat die goewerneur gesien het wat gebeur het, het hy in Jesus begin glo. Hy was baie opgewonde oor alles wat Paulus-hulle vir hom oor die Here gesê het.
Paulus in die sinagoge in Antiogië
13Na hierdie gebeure het Paulus en sy metgeselle met ’n skip na Perge in Pamfilië gereis. Johannes Markus het nie kans gesien om verder saam met hulle te gaan nie. Hy het besluit om terug te gaan Jerusalem toe. 14Intussen het die res van die geselskap van Perge na die stad Antiogië in Pisidië vertrek. Met hulle aankoms het hulle op die sabbatdag na die Joodse aanbiddingsplek gegaan.
15Nadat die voorganger in die sinagoge uit die Ou Testament voorgelees het, het die hoofde van die sinagoge vir Paulus en Barnabas gevra: “Vriende, ons sien julle is nuut hier. Het julle nie iets op die hart wat julle vir ons wil vertel nie? Dalk ’n woord om ons moed in te praat?”
Jesus is die Seun van Dawid
16Paulus het opgestaan en vir almal in die sinagoge beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Geagte volksgenote, ek kom agter dat julle groot respek vir God het. Daarom moet julle nou baie mooi luister. 17God het ons voorvaders baie jammer gekry. Daarom het Hy hulle as sy volk uitgekies. Toe hulle nog slawe en vreemdelinge in Egipte was, het Hy hulle daar gaan uithaal en van hulle ’n groot volk gemaak. 18Veertig jaar lank het Hy vir hulle in die woestyn gesorg. 19Daarna het Hy sewe volke in Kanaän vernietig en hulle grond aan ons voorouers gegee. 20Gedurende hierdie tyd van sowat 450 jaar het God ’n hele klomp rigters aangestel om sy volk te lei totdat die profeet Samuel op die toneel verskyn het.
21“In Samuel se tyd wou die volk ’n koning hê om oor hulle te regeer. God het Saul, die seun van Kis uit die stam van Benjamin, as koning aangestel. Hy het 40 jaar lank regeer. 22Nadat God hom van die toneel verwyder het, het Hy Dawid as die nuwe koning aangewys. God het van hom gesê: ‘Ek het oral gesoek totdat ek Dawid, Isai se seun, gekry het. Hy is iemand so reg na my hart. Hy sal alles doen wat Ek vir hom sê.’
23“Uit Dawid se nageslag het God ’n Redder vir Israel laat voortkom. Sy naam is Jesus. 24Net voor Hom het Johannes die Doper daar in Galilea opgetree. Hy het vir die volk gesê dat hulle hulle sondes moet laat staan en hulle tot God moet bekeer. Diegene wat bereid was om dit te doen, is toe deur hom gedoop. 25Toe Johannes amper klaar was met sy werk, het hy gesê: ‘Dink julle dat ek die Een, die Gestuurde van God is? Wel, julle is verkeerd. Ek is nie Hy nie. As ek klaar is met my werk, sal hierdie Een op die toneel verskyn. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om die werk van ’n slaaf vir Hom te doen deur sy skoene vir Hom vas te maak nie.’”
Jesus is sterker as die dood
26“Broers, julle is Abraham se nageslag. Julle is die mense wat groot respek vir God het. Weet julle, hierdie boodskap van verlossing is spesiaal vir julle bedoel.
27“Die inwoners van Jerusalem en al hulle leiers het nie ’n idee gehad wie Jesus regtig is nie. Daarom het hulle Hom doodgemaak. So het hulle die woorde van die profete waar laat word wat julle elke sabbat hier in julle sinagoge lees. Daardie mense het glad nie ’n goeie rede gehad om Jesus dood te maak nie, maar nogtans het hulle dit gedoen. 28Hulle het by die Romeinse goewerneur, Pilatus, gaan soebat dat hy Hom moes teregstel.
29“Nadat hierdie mense alles aan die Messias gedoen het wat die profete gesê het hulle sou doen, het hulle sy liggaam van die kruis afgehaal en Hom gaan begrawe.
30“God het Hom weer lewendig gemaak. 31Daarna het Jesus dikwels aan sy volgelinge verskyn. Dit is hulle wat van die tyd toe Hy in Galilea gepreek het oral saam met Hom rondgegaan het. Daardie mans het met hulle eie oë gesien dat Hy lewe. Hulle is op hierdie selfde oomblik besig om oral onder die Israeliete te preek.”
Lewe uit die dood!
32“Ons het vandag baie goeie nuus vir julle: al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het, het nou waar geword. 33Ons, hulle kinders, kan nou hoor en sien dat dit waar geword het toe Hy Jesus lewendig gemaak het. Een van die psalms beskryf dit glashelder:
‘Jy is my Seun. Net jy! Vandag verklaar Ek voor almal dat Ek jou Vader is.’
34“Toe God Jesus lewendig gemaak het, het Hy dit eens en vir altyd gedoen. Jesus sal nooit weer doodgaan en in die doderyk vergaan nie. So het God alles waar laat word wat Dawid vroeër gesê het: 35‘U sal nooit toelaat dat u eie kneg in die doderyk vergaan nie.’
36“Dawid het natuurlik nie oor homself gepraat toe hy dit geskryf het nie. Hy is immers lankal dood en begrawe. Van hom het daar niks oorgebly nie. 37Maar Jesus is deur God lewendig gemaak. Hy sal nooit weer die binnekant van die doderyk met al sy verrotting sien nie.
38“Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring. 39Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde.
40“Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het:
41‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’”
Teëstand teen die evangelie
42Toe die diens in die sinagoge verby was, het die mense vir Paulus gevra om weer die volgende sabbat met hulle oor Jesus te kom praat. Terwyl hulle begin huis toe gaan, het ’n groot groep Jode en ’n klompie persone wat hulle vroeër tot die Joodse geloof bekeer het, agtergebly. 43Paulus en Barnabas het nog lank met hulle gepraat. Hulle het vir die mense gesê: “Hou altyd net aan God se goedheid vas. Glo in Christus!”
44Op die volgende sabbat het omtrent die hele stad se inwoners by die sinagoge opgedaag om na die Here se woord te kom luister. 45Toe die Jode die groot skare sien, het hulle groen van jaloesie geword. Hulle het daar voor almal begin om Paulus te beledig en om lasterlike dinge teen Jesus te sê.
46Paulus en Barnabas het skerp daarop gereageer: “Ons moes eerste met julle oor God se verlossingsdade kom praat. Maar noudat julle die rug daarop gekeer het, moet julle weet dat julle die ewige lewe gaan misloop. Ons gaan nou die goeie nuus meedeel aan mense wat nie Jode is nie. God het ons beveel om na hulle toe te gaan toe Hy vir ons gesê het: 47‘Ek het jou aangestel om ’n lig vir ander volke te wees. Jy moet vir almal tot aan die verste uithoeke van die wêreld gaan vertel dat Ek hulle verlos.’”
Goeie nuus verander mense
48Toe die mense wat nie Jode was nie hierdie woorde hoor, het hulle begin hande klap en juig. Hulle het God geloof omdat Hy ook vir hulle omgee. Almal van hulle wat deur God uitgesoek is om ’n plek in sy nuwe wêreld te kry het toe tot geloof in Jesus gekom.
49Daarna het die woord van die Here soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei. 50Die Joodse owerhede was baie kwaad daaroor. Hulle het agteraf ’n aantal leiersfigure in die stad en ook ’n groep belangrike vroue opgesteek om Paulus en Barnabas met geweld te laat verwyder. 51Hulle twee is ook kort daarna hardhandig uit die stad weggejaag.
Hierdie slegte ervaring het Paulus-hulle nie mismoedig gemaak nie. Hulle het na Ikonium, die volgende stad, toe gegaan om die goeie nuus daar aan die mense te vertel. Hulle was steeds vol van die Heilige Gees se krag en ook vol blydskap.

Tans Gekies:

Handelinge 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid