HANDELINGE 11:1-18

HANDELINGE 11:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Die apostels en die ander gelowiges in die provinsie Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die boodskap van God aanvaar het. En toe Petrus in Jerusalem gekom het, het party Joodse Christene met Petrus begin stry en gesê: “Jy het na mense toe gegaan wat nie besny is nie, en jy het saam met hulle geëet.” Toe het Petrus begin om vir hulle alles mooi te verduidelik. Hy het gesê: “Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in 'n droom. Ek het gesien dat iets soos 'n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het. Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls. En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’ Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’ Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’ Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in. En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur. En die Heilige Gees het vir my gesê om saam met hulle te gaan en nie te stry nie. Hierdie ses gelowiges van die stad Joppe het ook saam met my gegaan, en ons het in die huis van Kornelius ingegaan. Kornelius het vir ons vertel dat hy gesien het 'n engel staan in sy huis, en die engel het vir hom gesê: ‘Jy moet iemand na Joppe stuur en vir Simon vra om saam te kom hiernatoe. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Simon sal dinge vir jou vertel, en as jy daarna luister, dan sal God vir jou en vir almal in jou huis red.’ “En toe ek begin praat, het die Heilige Gees in hulle gekom, soos die Gees in die begin ook in ons gekom het. Toe het ek die woorde van die Here onthou wat Hy gesê het: ‘Johannes het julle met water gedoop, maar Ek sal vir júlle doop met die Heilige Gees.’ Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.” Toe die Joodse gelowiges hierdie dinge gehoor het, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “Dit is nou so: God het ook vir die heidene gehelp om te verander sodat hulle kan lewe soos God wil hê hulle moet lewe.”

HANDELINGE 11:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het. En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet. En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.

HANDELINGE 11:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.” Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering 'n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. Ek het toe 'n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ 'n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek. “Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. Hy het 'n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’ “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

HANDELINGE 11:1-18 Die Boodskap (DB)

Die nuus oor God se werk onder mense wat nie Jode is nie, het soos ’n veldbrand versprei. Die ander apostels en die gelowiges in Judea het ook daarvan te hore gekom. Toe Petrus kort daarna weer in Jerusalem aankom, het sekere gemeentelede wat nog die besnydenis en ander Joodse gebruike streng onderhou het, hom voor stok gekry. Hulle was ongelukkig omdat hy in iemand se huis ingegaan het wat nie besny was nie en boonop saam met hom geëet het. Hulle het dit reguit vir Petrus gesê. Petrus het verduidelik wat gebeur het: “Ek was een middag in Joppe besig om te bid toe ek ’n hemelse gesig sien. Voor my oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor my afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls. Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’ “‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’ “Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’ “Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. “Op daardie oomblik het daar drie mans opgedaag by die huis waar ek gebly het. Hulle is uit Sesarea gestuur om my te kom haal. Die Heilige Gees het toe vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan. Ek en hierdie ses broers by my is toe na Kornelius se huis in Sesarea. Daar het hy ons vertel hoe ’n engel aan hom verskyn het. Die engel het vir hom gesê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat haal vir Petrus. Hy sal vir jou sê hoe jy en jou huisgesin in die regte verhouding met God kan kom.’ “Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het. “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’? “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.” Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”

HANDELINGE 11:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat ook nie-Jode die woord van God aangeneem het. Toe Petrus in Jerusalem aankom, het die Joodse gelowiges hom gekritiseer: “Jy het nie-Jode besoek en jy het selfs saam met hulle geëet!” Petrus het toe begin om vir hulle alles mooi uiteen te sit: “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geestesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, het uit die hemel afgekom. En dit het tot by my gekom. Toe ek in die doek kyk, sien ek daarin allerhande aardse diere, wilde diere en reptiele, en ook voëls. Toe hoor ek ’n stem wat vir my sê: ‘Staan op, Petrus! Slag en eet!’ “‘Nooit nie, Here!’ het ek geantwoord. ‘Iets wat onrein is, het nog nooit my mond binnegegaan nie.’ “’n Tweede keer het ’n stem uit die hemel gereageer: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.’ “Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek. Presies op daardie tydstip het drie mans wat van Sesarea af gestuur was, by die huis aangekom waar ons tuis was. Die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moet gaan, en dat ek nie moet aarsel omdat hulle nie-Jode is nie. Ek het toe saam met hierdie ses medegelowiges gegaan, en ons het die man wat my laat haal het, se huis binnegegaan. Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy verlos sal word, jy en jou hele huishouding!’ “Ek het net begin om die Goeie Nuus aan hulle te vertel, toe kom die Heilige Gees op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?” Toe hulle dit hoor, het hulle stil geraak. Hulle het God begin prys en gesê: “God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid